Internasionale navorsingsamewerking gaan krisis van seksuele benadeling konfronteer

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Optentia navorsingsfokusarea is besig met baanbrekerswerk oor die ontwerp en uitvoer van internasionale samewerkingsnavorsing in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap.

Optentia het onlangs vir prof Tess Patterson van die Universiteit van Otago in Nieu-Seeland as buitengewone professor in hulle midde verwelkom.

Prof Patterson, ’n gesoute akademikus, navorser en kliniese sielkundige, is ’n kundige op die gebied van skadelike seksuele gedrag, ten opsigte van oortreders sowel as die slagoffers van hierdie soort benadeling. Sy spesialiseer veral in die evaluering en behandeling van seksuele oortreders.

Volgens prof Patterson raak die hoë voorkoms van seksuele benadeling alle lede van die samelewing en kan daarom nie geïgnoreer word nie. Dit is veral waar as ’n mens die wêreldwye erns van die probleem in ag neem wat mans en vroue van alle ouderdomme raak en deur mans- sowel as vroue-oortreders gepleeg word.

Driehoek van seksuele benadeling

Tydens haar intreelesing as buitengewone professor het sy voor ’n gehoor van akademiese eweknieë, toekomstige navorsingsamewerkers en gesondheidsorg- en hulpgewende kundiges ’n driehoek van seksuele benadeling bespreek, naamlik die kind as getuie, die oortreder en die slagoffer-oorlewende.

Haar lesing het gefokus op die ondersoek van drie sleutelareas wat met seksuele benadeling verband hou. Dit fokus eerstens op die kind as getuie in gevalle van die seksuele molestering van die kind en die dringende behoefte aan ’n goue standaard vir praktyke van forensiese onderhoudsvoering. Tweedens het sy ’n oorsig oor atipiese oortreders ten opsigte van seksuele benadeling gegee, met ander woorde vroulike oortreders en adolessente wat by skadelike seksuele gedrag betrokke is. Laastens het sy die langtermynuitkomste ondersoek, asook die deurleefde ervarings van diegene (mans sowel as vroue) wat seksuele molestering in hulle kinderjare oorleef het.

Die hoë voorkoms van seksuele benadeling in Nieu-Seeland sowel as Suid-Afrika beklemtoon volgens prof Patterson die belangrike rol wat hulpgewende kundiges speel wat by die evaluering en behandeling van en navorsing oor seksuele molestering betrokke is.

Prof Patterson het voorts verduidelik dat dit belangrik is dat die impak op die oortreder se naasbestaandes – aangesien hierdie oortreders in talle gevalle ’n gade, kinders, ouers of ’n breë familie het – met betrekking tot hierdie vernietigende skandemisdaad ook in ag geneem moet word. Deur haar navorsing is sy dus ’n voorstander vir intervensie ten opsigte van diensverskaffing aan oortreders en hulle naasbestaandes.

Kyk verder as stereotipes

Prof Patterson verduidelik verder dat deur stereotipiese etikette soos “predatore” en “monsters” aan hierdie oortreders toe te ken, gemeenskappe hulleself ’n vals gevoel van veiligheid gee deur te dink dat hulle weet hoe ’n seksuele oortreder lyk. Sy sê dat die tyd lankal verby is dat ons met betrekking tot seksuele benadeling aan oortreders dink as mans van 35 jaar en ouer.  

Hierdie oortredings word deesdae deur adolessente, neefs of niggies, moeders, ooms, tannies en bure gepleeg, en daarom moet gemeenskappe waaksaam wees.

Toegepaste navorsing om verandering teweeg te bring

Dr Patterson se navorsingsbelangstelling in seksuele molestering en oortreding word in haar kliniese werk weerspieël. Sy werk sedert 2010 as spesialis- kliniese sielkundige wat adolessente en volwassenes wat seksueel benadeel of gemolesteer is, evalueer en behandel. In hierdie rol adviseer sy regspraktisyns, howe, korrektiewe dienste, maatskaplike werkers vir kinders, die jeug en gesinne, onderwysers en ander praktiserende sielkundiges/psigiaters, en verskaf inligting aan hulle en gee ook omvattende risikobeoordelings.

 

 

Optentia het die aanstelling van prof Tess Patterson as buitengewone professor gevier. Van links is prof Mirna Nel, prof Hayley Walker-Williams, prof Ansie Fouche, prof Tess Patterson, prof Ian Rothmann en Christiaan Bekker.

 

Prof Hayley Walker-Williams het die buitengewone professor-sertifikaat aan prof Tess Patterson oorhandig.

 

Submitted on Tue, 09/10/2019 - 10:12