Howzat! Pret en plesier die KFC mini-krieket-manier

ʼn Menigte klein krieket-karnallies toegerus met kolwe, beenskutte en paaltjies gaan eersdaags op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark toesak om met hulle mini-krieketvernuf te spog.

Op Saterdag, 14 September, sal meer as 520 jong krieketspelers – verteenwoordigend van 19 skole van regoor die Suid-Gauteng streek – deelneem aan dié jaarlikse sportgeleentheid. Vanjaar sal die kampus vir die sesde keer as gasheer optree.

Die fees word deur die vakgroep Sportbestuur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die KFC-kitskosketting en Krieket Suid-Afrika aangebied.

Vanjaar se fees spog ook met die volgende borge: Colefax Trading (Pty) Ltd, KFC Vanderbijlpark SW5, KFC Vanderbijlpark SBD, KFC Vaal Mall, KFC Drie Riviere, KFC Vereeniging 1 en KFC Arcon Park.

Volgens Fanie Roos, een van die organiseerders van die fees en ‘n dosent verbonde aan die Skool vir Bestuurswetenskappe by die NWU, is die doel van geleenthede soos hierdie om kinders ‘n kans te gee om aktief te wees en pret te hê, terwyl hulle in die proses die fynere kunsies van krieket leer.

“Die dag is nie oor wen of verloor nie,” verduidelik Fanie. Hy sê dit gaan oor om pret te hê terwyl die kinders aan hulle kolf- en boulvaardighede werk, hul selfvertroue ontwikkel en die fisiese oefening kry wat kinders van hierdie ouderdomme so nodig het. Dit alles in ʼn vrolike atmosfeer waar hulle nuwe maats op die krieketveld kan maak.

Submitted on Wed, 09/11/2019 - 10:13