Hier kom die volgende geslag ekostryders

Marelize Santana -- Thu, 11/22/2018 - 14:28

Hier kom die volgende geslag ekostryders

Die toekoms van ons planeet is dalk nie so donker as wat talle mense voorspel nie. ’n Navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) doen haar deel om ’n nuwe geslag ekostryders toe te rus met kennis en toewyding om waterskaarste en ander uitdagings wat met klimaatsverandering te doen het, te bestry.

Dr Irene Muller van die Fakulteit Opvoedkunde is op ’n missie. Deur haar akademiese vaardighede, navorsingsvaardighede en liefde vir die natuur te kombineer, blaas sy nuwe lewe in omgewingsopvoeding en die bevordering van die impak van burgerlike wetenskap in Gauteng.

Dr Muller het onlangs met ’n aksienavorsing-loodsprojek begin wat burgerlike wetenskaplikes bemagtig om die volhoubare gebruik en verbruik van water te ondersoek en om te kyk hoe die mens by klimaatsverandering kan aanpas.

Geregtigheid en volhoubaarheid
Deur omgewingsonderrig en -praktyke by die inhoud van die kurrikulum van laerskoolkinders te voeg, kan onderwys meer verantwoordelike optrede ten opsigte van ’n regverdige en volhoubare samelewing oplewer. Opvoeding vir volhoubare ontwikkeling is internasionaal ’n integrale element van gehalte-onderwys en ’n belangrike bemagtiger vir volhoubaarheidspogings.

“Die doel van die navorsing is om die omgewing te help behou terwyl positiewe samelewingsverandering in skole bevorder word. Hierdie verandering sal aan die gang gesit word deur rolspelers in die skool se invloedsfeer, insluitende leerders, onderwysers, ouers en gemeenskapslede,” sê sy.

Die navorsing, wat op omgewingsopvoeding fokus, sal kulturele diversiteit en inheemse kennis inkorporeer en kritiese denke aanmoedig.

Kwesbaarheid as gevolg van klimaatsverandering maak navorsing noodsaaklik
Afrika se toenemende kwesbaarheid vir klimaatsverandering het navorsing nodig wat gemeenskappe in staat sal stel om veranderings soos waterskaarste, droogtes en intense storms wat klimaatsverandering meebring, te hanteer,” verduidelik dr Muller.  

“Skole wat onderwyspraktyke en -uitkomste binne plaaslike kontekste interpreteer, lewer leerders op wat hulle onmiddellike omgewing leer ken en só ’n belangrike rol kan speel om kwesbaarhede in die omgewing te hanteer. Daar is ’n kruiskurrikulumbenadering nodig.”

Aangesien skole verskillende sosio-ekonomiese en omgewingsuitdagings het, voorsien dr Muller dat die navorsing verskillende vlakke van kwesbaarheid sal oplewer.

“Aangesien dit moeilik is om jou in te dink hoe gemeenskappe in ander dele van die land die effek van klimaatsverandering ervaar, sal die navorsing laerskoolkinders van Rustenburg, Mafikeng en Vanderbijlpark bymekaarbring om die resultate van hulle navorsing te deel oor hoe klimaatsverandering hulle onderskeie gemeenskappe raak.”

Sy sê die impak van klimaatsverandering gaan waarskynlik aspekte van gesondheid, die ekonomie, die samelewing en kultuur insluit, en nie net die omgewing nie.

Hoop vir ’n nuwe geslag
Onderwysers en graad 7-leerders in Sosiale Wetenskappe (Geografie) en Lewenswetenskappe sal deelneem. Al die skole wat aan die studie deelneem, het waterbronne naby hulle.

Data sal deur vraelyste, opnames van groepbesprekings en die observasie van die deelnemers ingesamel word. Elke deelnemer sal aktief betrokke wees by die toetsing en monitering van die gehalte van die water in hulle gemeenskappe.

Hierdie loodsprojek vorm deel van ’n internasionale samewerkingsdialoog oor wêreldwye klimaatsverandering en omvat dinamiese vennootskappe met Noorweë, die Verenigde Koninkryk, die Filippynse Eilande, diverse gebiede van die Verenigde State, Bangladesj, Australië, Ierland, Denemarke, Nederland en Maleisië.

Met hierdie proses kom ’n hele nuwe geslag ekostryders na vore.

Dr Irene Muller.