Gradeplegtigheidfees vir NWU-gegradueerdes

Die Oktober-gradeplegtigheid van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark was ’n heuglike ervaring. Toe die meer as 100 gegradueerdes die verhoog opgestap het, het trotse geliefdes ge-ululeer, gejuig en ritmies handegeklap.

Prof Linda du Plessis, die adjunkvisekanselier vir beplanning en kampusbedrywighede in Vanderbijlpark, het in haar toespraak aan die gehoor vertel dat ’n gradeplegtigheid die viering van die mondigwording van die volgende geslag leiers, meningsvormers, opvoeders, entrepreneurs, tegniese kundiges, wetenskaplikes en kunstenaars is. Dié geleentheid word nie net deur die erkenning van ’n prestasie gekenmerk nie, maar is ook die belofte van toekomstige grootheid.  

“’n Gradeplegtigheid is terselfdertyd die begin van ’n opwindende nuwe fase in jou verhouding met jou alma mater,” het prof Du Plessis gesê, en bygevoeg dat met die ontvangs van ’n kwalifikasie, ’n student se status van dié van ’n student na dié van ’n alumnus verander.

“Ons alumni is belangrike ambassadeurs en vriende van die kampus. Die NWU is besonder trots op sy alumni-netwerk, wat nie net oor die Afrika-kontinent strek nie, maar oor die hele wêreld.”

Agt meestersgrade en vier doktorsgrade is toegeken by die seremonie, wat by die River of Life Family Church in Vanderbijlpark plaasgevind het.

Meestersgrade toegeken

  • Jessica Dos Santos Gutierrez: Magister Commercii in Bedryfsielkunde
  • Dewald Kellerman: Magister Commercii in Risikobestuur
  • Anna Christina Marx: Magister Commercii in Rekeningkunde
  • Nomsa Roseline Moteetee: Magister Educationis in Onderwysbestuur en Leierskap
  • Siphiwe Maria Moshugi: Magister Artium in Positiewe Sielkunde
  • Lerato Faith Pamela Libate: Magister Artium in Openbare Bestuur en Regering
  • Welhemina Nthabiseng Mofokeng: Meestersgraad in Ontwikkeling en Bestuur
  • Alexander van der Walt: Magister Scientiae in Rekenaarwetenskap

Doktorsgrade toegeken

  • Paddy Mugambe: Philosophiae Doctor in Rekeningkunde
  • John Byron Bunt: Philosophiae Doctor in Onderrig en Leer
  • Usha Ojageer: Philosophiae Doctor in Leerderondersteuning

Prof Linda du Plessis het die grade aan die gegradueerdes oorhandig.

 

Submitted on Mon, 10/07/2019 - 15:09