Fakulteit Opvoedkunde bedien “warm drukkies” in ʼn koppie

Die winter is hier en soos wat die kwik val, wend ons onsself telkens na die warmte van ʼn gebreide serp, jas of snoesige kombers. En wanneer dit by die ideale winterkos kom, sal ʼn koppie warm sop of ʼn geurige kerrie deur enigiemand verwelkom en waardeer word.

Dit is met hierdie gedagte dat die Fakulteit Onderwys op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark onlangs ʼn wintermaaltydprojek tydens die eksamen van stapel gestuur het.

Die projek – in samewerking met personeellede en verteenwoordigers van die fakulteit se studentevereniging – beoog om studente wat besig is om vir die eksamen voor te berei van ʼn heilsame maaltyd teen die koue aanslag van die winter, te voorsien.

Volgens dr Elize Kung, adjunkdekaan van die fakulteit, is die projek sover baie goed ontvang en het honderde studente uit die uitreik voordeel getrek. “Behalwe daarvoor dat dit studente se energievlakke verbeter om beter te leer, glo ons dat dit ʼn drukkie in ʼn koppie simboliseer,” verduidelik dr Kung. “ʼn Warm maaltyd is altyd heilsaam, vertroostend en koesterend.”

Sy sê ook dat alle personeellede en studenteleierskapstrukture as ʼn universiteitgemeenskap antwoord gee aan die sorgsaamheidsetiek waarna die NWU se droom streef. Sodoende word intervensies tot voordeel van die universiteit as geheel – in hierdie geval die studentebevolking van die kampus in Vanderbijlpark – pro-aktief geïdentifiseer.

*Die Fakulteit Opvoedkunde wil hiermee Pick ʼn Pay South East Boulevard en President Hyper Vanderbijlpark bedank vir hulle goedhartige ondersteuning in die uitvoering van hierdie projek.

Terwyl personeellede van die Fakulteit Opvoedkunde die sop voorberei het, het verteenwoordigers van die fakulteit se studenteraad die studente bedien.

 

 

Submitted on Tue, 06/25/2019 - 16:04