Die waarheid oor uraanblootstelling in Suid-Afrika sal jou hare laat rys

Belinda Bantham -- Thu, 07/11/2019 - 11:33

Die waarheid oor uraanblootstelling in Suid-Afrika sal jou hare laat rys

’n Nuwe internasionale navorsingsprojek wat fokus op die blootstelling van mense aan uraan in Suid-Afrikaanse goudmyngebiede, het bevind dat inwoners wat in en naby goudmyngebiede woon, aan verhoogde omgewingsvlakke van uraan blootgestel word.

Die uraan vind uiteindelik sy pad na die menslike liggaam en het skadelike gesondheidstoestande tot gevolg.

Die metodologie en bevindings van die studie “Human Exposure to Uranium in South African Gold Mining Areas Using Barber-based Hair Sampling” is onlangs gepubliseer in die PLOS ONE‑tydskrif, ’n inklusiewe platform wat gemik is op die bevordering van wetenskap tot voordeel van die samelewing.

Volgens prof Frank Winde, ’n navorsingsprofessor by die Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, verteenwoordig die studie die eerste direkte meting van menslike blootstelling in die bepaalde gebied.

Met inagneming van navorsing wat voorheen deur die internasionale agentskap vir navorsing oor kanker (IARC), ’n arm van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), uitgevoer is, was die tafel gedek vir hierdie internasionale, interdissiplinêre navorsingsprojek. Die IARC het bevind dat uraanbesoedeling in goudmyngebiede in die Witwatersrandgebied 20 keer hoër is as dié in die VSA en Kanada gesamentlik. 

Die neem van haarmonsters om uraanblootstelling te ondersoek

Teen die agtergrond van ’n geskatte 1,6 miljoen mense wat in Gauteng alleen naby uitskotdamme woon, het prof Winde omgewingskaarte ontwikkel om die gebiede te identifiseer waar mense die waarskynlikste aan hoë vlakke van uraan blootgestel word.

Hy verduidelik verder dat die maniere waarop inwoners blootgestel word, die volgende insluit: die inaseming van uitskotstof en radon wat deur die wind versprei word; die drink van besoedelde rivierwater en grondwater; die inname van voedsel wat met besoedelde water geproduseer word, insluitende groente wat tuis verbou word, asook vleis en melk van plaaslike diere; die inname van vis uit besoedelde water; en die doelbewuste of nie-doelbewuste inname van besoedelde grond, sediment en uitskotmateriaal.

In Gauteng is haarsalonne geïdentifiseer in wyke regoor die Wes-Randse goudveld waar daar potensieel groot blootstelling is (Tudor Shaft, Kagiso Uitbreiding 6, Kagiso Uitbreiding 8, Rietvallei, Azaadville en Mindalore), in die nabye omgewing van die boonste deel van die Wonderfonteinspruit, ’n stroom wat erg deur mynbedrywighede besoedel is.

Salonne in Khutsong-Noord – op die verre Wes-Randse goudveld – is ook geselekteer, sowel as salonne in Diepkloof Sone 4 en Noordgesig in die westelike deel van die Central Rand-goudveld. Vir kontrolegebiede is salonne in Alexandra, Laudium en Randburg gekies.

Die navorsingspan het haarmonsters ontleed van 1 332 instemmende individue wie se hare oor een of twee maande by die geselekteerde haarsalonne versamel is. ’n Totaal van 70 uraankonsentrasies is in 27 saamgestelde monsters van die navorsingsgroep verkry.

In die verduideliking van die bevindings sê prof Winde dat die belangrikste bevinding is dat uraanvlakke in die hare regoor die groep duidelik hoër is vergeleke met die waardes van individue wat nie aan uraan blootgestel is nie. Hy waag dit om te sê dat ’n beduidende getal monsters uraanvlakke getoon het wat soortgelyk is aan dié wat by uraanmynwerkers in Slowenië gevind is.

Navorsing om die weg vir toekomstige studies te baan

Soos dit met elke nuwe navorsingsmetode gaan – in hierdie geval die gebruik van haarmonsters – het die navorsers verskeie probleme ervaar. ʼn Voorbeeld is dat salonne vir bevolkings wat nie aan uraan blootgestel is nie, en wie se hare verhoogde uraanvlakke getoon het, die gevolg is van haarkappers wat naby taxistaanplekke geleë is, en dus ook pendelaars bedien wat in myngebiede woon, en nie net plaaslike inwoners nie.

“Dit is normaal dat wanneer ’n nuwe metode van monsterneming gebruik word, sterk punte en swakhede ontdek word, wat die metode vir toekomstige toepassing verder verbeter,” sê prof Winde, en voeg by dat die uitslae ’n opvolgstudie regverdig.

* Prof Winde het die bevindings van die studie gepubliseer in samewerking met dr Gerhard Geipel (Helmholtz-Zentrum Dresden-Rossendorf, die instituut vir hulpbron-ekologie, Dresden, Duitsland), Carolina Espina (die internasionale agentskap vir navorsing oor kanker (IARC), afdeling vir omgewing en bestraling, Lyon, Frankryk), en Dr Joachim Schuz (die internasionale agentskap vir navorsing oor kanker (IARC), afdeling vir omgewing en bestraling, Lyon, Frankryk).

Prof Frank Winde