Chantel gaan by SA se studente-netbalgroep aansluit

Die netbalspan van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het dalk nie sukses by USSA (Universiteitsport Suid-Afrika) gesmaak nie, maar het steeds daarin geslaag om die nasionale keurders te beïndruk.

Tydens die USSA-toernooi wat in Potchefstroom plaasgevind het, het die span van Vanderbijlpark die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) geklop. Die span moes egter die knie buig teen die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT), die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) en die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK). Dit het tot gevolg gehad dat die span net-net ’n Top 10-posisie misgeloop het.

Die hoogtepunt van die span se USSA-veldtog was die keuring van Chantel Fivaz vir die SA-studentegroep wat later hierdie jaar by die universiteite se wêreldkampioenskappe en die Konfederasie van Universiteitsport: Afrika (CUCSA) se toernooi gaan meeding.

Meer oor Chantel                                

Chantel (18), ’n eerstejaar BEd-student (wat in Senior en FET-onderwys spesialiseer), was sedert haar laerskooljare by die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark ’n ywerige netbalspeler. In graad 11 en 12 het sy vir Hoërskool Driehoek se eerste netbalspan gespeel en is gereeld in streeks- en provinsiale spanne opgeneem.

Sy is egter nie net iemand om op die baan mee rekening te hou nie, maar ook ’n geakkrediteerde Gautengse skeidsregter en ervare afrigter. Sy het hierdie jaar die o/14-netbalspan van haar alma mater, Hoërskool Driehoek, afgerig.

 

 Chantel Fivaz

Die NWU Vanderbijlpark USSA-netbalspan.

Submitted on Thu, 07/27/2017 - 08:30