Alumnus aan die stuur van NWU Vaal Rugbyklub in 2017

As die naam Lukas van der Schyff vir jou bekend klink, is die kans goed dat jul paadjies op die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU Vaal) gekruis het: eers as ‘n student, toe as ‘n alumnus en nou as die nuutverkose voorsitter van die NWU Vaal Rugbyklub.

Lukas – wat in 1998 die graad BCom Bemarking voltooi het, is vanaf Januarie aan die stuur van die klub en is slaggereed om dié nuwe hoofstuk af te skop. Volgens Lukas sien hy daarna uit om voort te bou op die klub se reputasie as een van die suksesvolste ontwikkelingskatalisators in die streek. “Ons wil ʼn kultuur van kameraadskap en voortgesette sukses vestig. Benewens nuwe borge is daar ook ʼn rits belowende spelers wat nadergehard gaan word en ons gaan op dié manier die klub se arsenaal versterk,” meen Lukas.

Die uitdagings wat 2017 bied

Die beleerde klub het die afgelope paar jaar onder swaar tye gebuk gegaan, maar Lukas en sy bestuurspan is slaggereed om van 2017 ‘n sukses te maak.  “Hoewel onlangse verwikkelinge die klub se Varsityskild en Gold Cup drome verydel het, is daar nog steeds die Valke Peregrine-liga en die USSA-toernooi om na uit te sien,” sê Lukas.

Wat die Valke-liga betref, gaan die klub vanjaar ‘n eerste, tweede en o/21 –span inskryf.  Die klub se o/21-span gee jaarliks die pas aan en het die afgelope ses jaar die liga vier keer gewen. Die klub is ook bekend vir die uitstekende  ontwikkelingswerk wat gedoen word en die stringe o/21 provinsiale spelers wat die klub al opgelewer het.

‘n Derde span sal ook vanjaar in die Platteland-liga ingeskryf word. Wat die deelname aan die USSA-week betref, is die blootstelling wat spelers kry van onskatbare waarde. “Ons doelwitte is eenvoudig om die liga te wen, soveel moontlik provinsiale rugbyspelers op te lewer en goed te doen by die Ussa-week,” som Lukas die stragegie vir 2017 op. 

NWU Vaal afrigters

Eerste span: Gerrie van Aswegen

Tweede span: Zardu Faul en Adriaan Maartens

O/21 span: DJ Oosthuizen and Dudley Thompson

* Shaun Meijer is verkies tot die onder-voorsitter van die klub. 

Sluit vandag nog by die klub aan

Die klub oefen Maandae, Dinsdae en Donderdae om 18:00 op die Vanderbijlparkkampus se velde. Enigeen is welkom om die klub aan te sluit.

 

Shaun Meijer en Lukas van der Schyff. Foto: Ettienne van Rensburg

 

Submitted on Mon, 01/16/2017 - 09:42