Alumni vorm vennootskap met Loopbaansentrum om studente te bemagtig

Vincent Kheswa, Charles Matubule, Keketso Mofokeng en Kagiso Mphachoe is nie net vier onverwante jong mans wat hulle stempel in die werksomgewing afdruk nie. As alumni van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark deel hulle ’n diepgewortelde passie vir hulle alma mater en die opkomende geslag leiers en presteerders.

Dié vier vriende gaan op Vrydag 12 Mei 2017 in samewerking met die kampus se Loopbaansentrum ’n CV- en onderhoudwerkswinkel aanbied. Die werkswinkel word gratis vir finalejaarstudente aangebied.

Die werkswinkel sluit een-tot-een-onderhoude met studente in, asook leiding oor hoe om ’n curriculum vitae op te stel, en ’n bespreking van finansiële geletterdheid. Die program begin om 09:00 in gebou 6 op die kampus.

Meer oor die alumni wat betrokke is

Toe hulle gevra is waarom hulle so gretig is om by die studentebevolking betrokke te raak, was hulle antwoord op die man af: hulle glo aan die NWU en die waarde wat dit aan sy studente bied. “Vanaf die oomblik dat ons ons voete op die kampus gesit het, was ons trots op die Noordwes-Universiteit, en nou wil ons iets teruggee en ons alma mater ondersteun,” sê Charles Matubule, wat deur middel van sy werwingsmaatskappy, Khomotso Consulting, by die projek betrokke is. Charles het in 2012 ’n BA-graad in Gedragswetenskappe voltooi.

Vincent Kheswa het ’n BSc-graad in Bedryfswiskunde en Informatika (BWI), wat hy in 2010 aan die universiteit verwerf het. Hy is tans as ’n modelimplementeringsanalis by Standard Bank in diens. Volgens Vincent is daar geen verskoning om nie jou drome waar te maak nie. “As jong man uit ’n minderbevoorregte agtergrond het mense my laat glo dat sukses by my sal verbygaan en dat ek nie veel sal bereik nie. Vandag, nadat ek sukses behaal het en volgehoue groei ervaar, weet ek dat enigiets moontlik is,” sê Vincent, wat op die ouderdom van 28 jaar reeds lof as digter, skrywer, openbare redevoerder, liedjieskrywer en opnamekunstenaar ingeoes het. Hy is ook ’n lid van die NWU Vaal se alumni-advieskomitee.

Keketso Mofokeng is ’n mensehulpbronspesialis wat fokus op areas soos werwing, prestasiebestuur, welstand, en opleiding en ontwikkeling. Hy het in 2009 ’n BCom-graad in Mensehulpbronnebestuur aan die universiteit verwerf en dit in 2010 met ’n BComHons in Mensehulpbronnebestuur opgevolg. As ’n loopbaanontwikkelingspesialis het hy pas by die Kleinsake-ontwikkelingsagentskap (KSOA) aangesluit, nadat hy by die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gewerk het. Keketso is by die Suid-Afrikaanse Raad vir Mensepraktyke as MH-lid geregistreer.

Kagiso Mphachoe het in 2015 sy BCom-graad in Bestuursrekeningkunde verwerf en werk tans as interne beheerbeampte by NBC Holdings in die fondsrekeninge-afdeling.

 

 

 

 

 

Submitted on Wed, 07/19/2017 - 11:49