Alumna skitter op die nasionale musiekverhoog

Met haar strelende stem, skitterpersoonlikheid en flair vir vermaak, is Verona Goslett spoedig besig om ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrika te word.

Hierdie talentvolle jong alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU) is tans besig om die nasionale musiekfront op horings te neem as ondermeer deelnemer aan The Voice SA (M-Net, seisoen 3) en as ‘n benoemde vir ‘n gesogte Ghoema toekenning. Haar debuut enkelsnit, Maskers, is ook bo-aan die trefferlys van verskillende radiostasies regoor die land.

As kleindorpmeisie van Meyerton in Gauteng, het Verona haarself as aktrise, ster van ʼn realiteitsprogram, televisie en radioaanbieder, vervaardiger, joernalis en nou ook sangeres, onderskei. Die laasgenoemde na aanleiding van “ʼn droom wat bewaarheid is”, volgens hierdie BA taalpraktykgraduant.

Benoem vir ‘n Ghoema toekenning

Haar debuutalbum, Maskers, het bekendheid verwerf op verskeie plaaslike radio trefferparades en het gelei tot ʼn Ghoema-benoeming in die kategorie vir beste kontemporêre album deur ʼn vroulike kunstenaar. In hierdie kategorie staan Verona skouer aan skouer met groot name soos Cordelia, Jennifer Samudio, Lizanne Barnard en Tarryn Lamb. Die wenner sal by die toekennings op 17 April 2019 bekendgemaak word.

The Voice SA

Verona kan tans gesien word as deelnemer aan die populêre realiteitsprogram, The Voice SA, waar sy die beoordelaars (onder andere groot musiekgeeste soos Francois van Coke en Riana) stomgeslaan het met haar weergawe van Avril Lavigne se “Head above water” tydens die sogenaamde blinde oudisies. As deel van #TeamRiana sal Verona nou teen 13 ander spanmaats te staan kom gedurende die uitkloprondtes wat voorlê.

Verona het haar optrede gedurende die oudisie aan haar pa opgedra. Sy beskryf hom as haar grootste ondersteuner.

Haar reis na bekendheid

Verona sê sy was net vier jaar oud toe haar talent ontdek is. Haar tannie het haar by die skool gaan haal en die twee het dan al die pad huis toe, saam gesing. Op die ouderdom van agt, het Heidi Schoeman van die Teater vir Uitvoerende Kunste vir Verona onder haar vlerk geneem en sy het ʼn A++ gekry vir die eerste liedjie wat sy by die Vereeniging Kunstefees gesing het. Gedurende haar skooljare het sy gereeld aan Eisteddfods, skoolkonserte en kunstefeeste deelgeneem. Sy het ook haar Trinity Konsert Sertifikaat verwerf en was vir vier jaar lid van die befaamde Suid-Gauteng Jeugkoor, Colla Vocé.

Haar reis na roem het in 2012 afgeskop toe sy die rol van Brionay in ʼn paar episodes van die populêre sepie, 7de Laan, vertolk. In 2013 was sy die naaswenner in die realiteitstelevisiereeks Jy is my liefling op KykNET. Die vervaardigers van die film Liefling het deur middel van dié reeks ʼn hoof aktrise vir die verhoogproduksie van die gelyknamige film, aangestel.

Saam met ʼn goeie vriend, Llewellyn du Plessis, was sy ook aanbieder, vervaardiger en regisseur van die televisiereeks Vir Ewig en Altyd. Die program het die trou-industrie verken: van verskillende venues en uitnodigings tot regsadvies en huweliksberading voor die groot dag.

As mede-aanbieder van ʼn ontbytprogram op 90.6fm Stereo het Verona bekendheid in die Vanderbijlpark verwerf. Haar betrokkenheid by die radiostasie het in 2014 begin, toe sy as nuusskrywer aangestel is.

Wanneer sy nie sing nie, werk sy vir die tydskrif Game & Hunt, waar sy ook die publikasie se sosiale mediaplatforms en video produksies bestuur.

ʼn Trotse alumna

Verona se aanlegtoetse het gewys dat sy ʼn talent vir tale het en in 2011 het sy vir ‘n BA in kommunikasiestudies en taalpraktyk aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark begin studeer. Sy het ook ʼn honneursgraad in joernalistiek in 2014 verwerf.

Tydens haar eerstejaar van studie het sy die toekenning as topstudent in die Fakulteit Geeteswetenskappe verwerf. Volgens Verona was dit veral haar finale jaar by die NWU wat haar vir die werksplek voorberei het: “Dit was die moeilikste maar ook die mees insiggewende jaar van my tyd by die NWU. Ek sal dit vir niks verruil nie,” sê sy.

Sy het die kleiner groepe in haar derde- en honneursjare op die kampus baie geniet. “Die agt honneursstudente het elk ʼn totaal verskillende agtergrond gehad en ons het baie geheg aan mekaar geraak. Ons het ook met die dosente bevriend geraak en bande gesmee wat ons vir jare vorentoe steeds sal koester.”

 

Verona op die verhoog tydens haar blinde oudisie vir The Voice SA.

Verona se debuut album, Maskers, is in 2018 uitgereik.

 

 

Submitted on Fri, 04/05/2019 - 15:02