PUKfm as die beste kampusradiostasie in SA aangewys

Vir die eerste keer in die geskiedenis van PUKfm is dié radiostasie op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom by die jaarlikse Liberty Radio Awards-seremonie as die nommer een kampusradiostasie in die land aangewys.

Hierdie jaar se gebeurtenis het op 14 April 2018 by die Sandton Konvensiesentrum plaasgevind.

PUKfm het 14 nominasies gehad – die meeste wat nog ooit ontvang is. Dit was ook in die top drie radiostasies met die hoogste getal nominasies.

Hierdie nominasies het tot die volgende vyf toekennings gelei:

  • Kampus-radiostasie van die Jaar
  • Beste Kampus-naweekprogram – Internasionale Top 40, aangebied deur Annelu le Roux
  • Beste Kampus-dagprogram – PUKfm Lunch, aangebied deur Marianne Sachse en Trevor Geoghegan
  • Beste Kampus-aandprogram – Rooiwyn Sondag
  • Beste Kampus-ontbytprogram – Big Bang Breakfast, aangebied deur Owen Crafford, Cheyenne Pienaar en Cronjé van Zyl

“Daar is geen woorde om die gevoel te beskryf nie – nie net om soveel individuele toekennings te wen nie, maar ook dat die radiostasie die hoogste toekenning in die land ontvang het,” sê PUKfm se stasiebestuurder, Charonike Nel. “As stasiebestuurder sien ek hoe hard die personeellede elke dag werk en hoeveel passie hulle vir die medium het, en vir die bedryf om erkenning daaraan te gee, is wonderlik.”

Sy voeg by dat hulle geneig is om te vergeet dat wat hulle elke dag doen eintlik bo die standaard is, en om so baie toekennings te wen, inspireer hulle om selfs nog harder te werk, en herinner hulle daaraan hoe lief hulle vir radiowerk is.

“Ons besef watter geweldige verantwoordelikheid dit is om ons luisteraars in te lig, te vermaak en te inspireer, en ons werk baie hard om hulle dag beter te probeer maak. Ons is ’n uiters hegte groep mense met ’n yslike klomp trots en lojaliteit teenoor die handelsmerk,” sê Charonike.

Volgens Charonike is PUKfm se geheim vir hulle sukses dat elke personeellid werklik in dieselfde waardes en werksetiek glo, en die ingesteldheid het dat dit “meer as net ’n radio” is. 

“Ek wil graag almal bedank wat PUKfm ondersteun het – ons getroue ondersteuners, die NWU se personeellede en almal wat by die stasie werk. Hulle ondersteuning en toewyding is wonderlik,” sluit Charonike af

PUKfm se stasiebestuurder, Charonike Nel, spog trots met die toekenning vir Beste Kampus-aandprogram.

.

 

 Marianne Sachse spog met die toekenning vir Beste Kampus-dagprogram – PUKfm Lunch. Marianne bied hierdie program saam met Trevor Geoghegan aan.

 

PUKfm se Big Bang Breakfast het die toekenning vir Beste Kampus-ontbytprogram losgeslaan. Hier is die drie aanbieders – Owen Crafford, Cheyenne Pienaar en Cronje Van Zyl – met die toekenning.

 

Submitted on Wed, 04/18/2018 - 10:12