Caster Semenya en Jean Verster as die beste in die land aangewys

2017 was ’n fenomenale jaar met vele suksesse en mylpale vir die Noordwes-Universiteitstudent (NWU-student) Caster Semenya en haar afrigter, Jean Verster, wat deel is van die NWU se Hoëprestasieinstituut.

Hulle het die jaar op volle vaart begin met Caster wat ’n aantal nasionale en internasionale titels onder Jean se toesig gewen het.

Hulle mees onlangse prestasie was hierdie jaar se Jaarlikse Sporttoekennings, waar Caster as die Sportvrou van die Jaar en Jean as Afrigter van die Jaar aangewys is.

Toe sy haar toekenning ontvang het, het Caster al haar ondersteuners bedank dat hulle vir haar gestem en haar ondersteun het. Sy het ook haar vrou, haar ouers, Samuel Sepeng, die spanlede wat agter die skerms werk en vir God vir haar onlangse suksesse bedank.

“My afrigter, Jean Verster, dankie dat jy in my geglo het, selfs al is ek soms ’n bietjie ongedissiplineerd. Dankie vir die geleentheid en dat jy my ’n kans gegee het,” het Caster gesê.

Toe Jean die podium betree, het hy gesê dat hy nie verwag het om te wen nie. Hy het aanvanklik gedink dat die Rugby Sewes se afrigter, Neil Powell, met die titel sou wegstap, aangesien atletiek ’n individuele sport is waar oorwinnings heeltemal van een persoon afhanklik is, anders as by ’n spansport.

“Ek wil almal bedank wat agter die skerms ’n bydrae gelewer het; hierdie toekenning is ’n spanpoging. Daar was baie mense wat tot my huidige sukses bygedra het, en ek is dankbaar,” het Jean gesê.

Hy het bygevoeg dat hulle daarna uitsien om vir die 2018 Statebondspele en die 2020 Olimpiese Spele te kwalifiseer en daaraan deel te neem en om die 800 m-wêreldrekord te behou.

“Dit was ’n eer en plesier om met iemand te werk wat so toegewyd, nederig en gefokus is soos Caster,” het hy afgesluit.

Die NWU sien daarna uit om te sien hoe Caster en Jean nog nuwe terreine ontgin en al hulle doelwitte bereik.

 

NWU-afrigter Jean Verster is as Afrigter van die Jaar aangewys.

NWU-student Caster Semenya is as Sportvrou van die Jaar aangewys.

Submitted on Tue, 11/21/2017 - 12:14