Xcel – open geslote deure in ingenieurswese

’n Tweede kans om beter matriekuitslae te kry, kan net die ding wees om ’n voorspoedige loopbaan in ingenieurswese mee te begin. Die Noordwes-Universiteit (NWU) gee deur die innoverende Xcel-program aan talentvolle matrieks wie se finale uitslae in die pad staan van hulle droom om ingenieurs te word die geleentheid om hulle passie na te jaag.

Xcel laat studente toe om graad 11 en 12 te herhaal deur nuwe portefeuljepunte vir skoolgebaseerde assesserings (SBA) op te bou – SBA is ’n portefeulje met bewyse wat tot die finale assessering in die matriekeksamen bydra. Nadat die program voltooi is, skryf die studente weer die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe onder toesig van die Departement van Basiese Onderwys. Indien hulle beter punte kry, kan hulle vir toelating tot ingenieurswese kwalifiseer.

Die eenjaar- voltydse program bestaan uit basiese onderrig in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe en tot hoër onderwys deur die Akademiese Geletterdheidsontwikkelingsvakke (ALDE 111 en ALDE 121 in die tweede semester). Studente woon ook twee vaardigheidsgeoriënteerde kursusse in Rekenaarondersteunde Ontwerp (CAD) en Programmering by.

Loopbaankoers wat jou lewe kan verander

Die program het Lihle Vilakati aan die talle moontlikhede op die verskeie gebiede van ingenieurswese bekendgestel. Sy het hierdie jaar by ons aangesluit en het die program al amper voltooi.

“Dit het my lewe op so baie maniere verander. Ek was so moedeloos toe ek in graad 12 nie so goed in wiskunde en wetenskap gevaar het nie, toe begin ek uit frustrasie ander loopbaangeleenthede ondersoek.” Haar pa het aanlyn oor die program gelees en haar aangemoedig om in te skryf.

“Dit was ’n uitstekende besluit. Ek glo dit is besig om my te neem na waar ek wil wees. Ek kon die probleme hanteer wat ek met daardie vakke gehad het en my punte baie verbeter. Ek was self verras toe ek deur die loop van die program onderskeidings in van die modules behaal het.”

Lihle sien nou uit daarna om in 2024 haar eerste jaar as ’n NWU-student in Rekenaaringenieurswese te begin.

Vaardigheidsontwikkeling en verryking van studies

Boitomelo Matsobane is tans ’n vierdejaarstudent in Meganiese Ingenieurswese. Hy sê die Xcel-program, wat hy in 2018 voltooi het, het hom met al die vaardighede toegerus wat hy nodig het om op hierdie gebied te slaag.

“Ek wou nog altyd ’n verskil in gemeenskappe maak. Ek het grootgeword in die township waar talle van my familielede nog woon. Een ding wat my altyd gepla het, was die talle vullishope en rommel wat die gebied vervuil. Ek is vasberade om ’n loopbaan in ingenieurswese te hê wat ’n impak kan maak, en dit is waarom my navorsingsprojek die moontlikhede ondersoek om afval in elektrisiteit te omskep. Sonder Xcel wat die fondament gelê het, kon ek dit nie najaag nie.”

Boitomelo is nou vinnig op pad om sy droom te bewaarheid om ’n ingenieur te word. “Een van die wonderlikste dinge oor die Xcel-program is dat dit my inspireer. Dit het my gevorm en my verskillende vaardighede geleer wat vir ingenieurswese noodsaaklik is, soos om buite die boks te

dink en jou tyd doeltreffend te bestuur. Dit het my geleer om die regte tegnologie te gebruik om ’n spesifieke taak gedoen te kry.”

Van Xcel tot projekbestuurder

“Ek het so ’n lang pad gekom van waar ek aanvanklik nie tot die kursus in Ingenieurswese toegelaat is nie tot waar ek vandag is waar ek op die gebied van rekenaar- en elektroniese ingenieurswese by die NWU werk,” sê JP van Deventer.

Nadat hy Xcel voltooi het, het JP in 2020 sy graad in Ingenieurswese gekry, ’n meestersgraad in 2022 voltooi en is tans vir ’n MBA-graad ingeskryf, terwyl hy ook ’n voltydse werknemer is. Hy werk as projekbestuurder saam met die NWU se ingenieurspan aan hulle Cybathlon-projekte.

JP was in 2016 deel van die eerste groep Xcel-studente. “Een van die belangrikste invloede wat Xcel op my loopbaan gehad het, is dat dit my in staat gestel het om myself met ingenieurs te omring en geleenthede in die veld te ondersoek. Ek is dankbaar dat ek ook van die dinge kan deel wat ek tydens my Xcel-jaar geleer het,” sê JP, wat ook lesings en modules in die Xcel-program aangebied het.

Meer oor Xcel

“Dit gaan alles oor die oopmaak van geslote deure. Daar is talle redes waarom intelligente en talentvolle skoolleerders swak punte in noodsaaklike vakke kan kry. Dit sluit enigiets van eksamenvrees, fisiese siekte, depressie en ondoeltreffende tydsbestuur tot eksterne faktore soos finansiële en huishoudelike probleme en ondoeltreffende onderrig in,” sê Elza Hattingh, bestuurder van die Xcel-program.

“Xcel help om studente te motiveer om die gaping te oorbrug tussen die minimum toelatingspunt van 40% vir Wiskunde en Fisiese Wetenskappe tot by die 70% wat nodig is om vir die studie van Ingenieurswese toegelaat te word.”

Elza sê sy is baie trots op die Xcel-studente en hulle prestasies deur die jare. “Ons het wonderlike voorbeelde gesien van passievolle en toegewyde studente wat die struikelblokke oorwin het en in die bedryf en die akademie presteer.”

Is jy die regte kandidaat vir die Xcel-program? Volgens Elza is die belangrikste kenmerke van suksesvolle Xcel-studente dat hulle gemotiveerd, hardwerkend en gedissiplineerd is, en al die klasse bywoon.

Vir meer inligting, besoek Xcel-program | ingenieurswese.nwu.ac.za, of kontak vir Sonette Becker by 018 299 1318.

....

Lihle Vilakati is tans besig om die Xcel-program te voltooi. “Dit is ’n wonderlike geleentheid om interessante mense te ontmoet en deel van die ingenieursgemeenskap te word.”

....

Boitomelo Matsobane is ’n vierdejaarstudent in Meganiese Ingenieurswese. Hy glo die Xcel-program, wat hy in 2018 voltooi het, het hom met al die vaardighede toegerus wat hy nodig gehad het om ’n suksesvolle loopbaan op hierdie gebied te volg. “Dit was ’n tydperk van 10 maande wat my lewe heeltemal verander het.”

...

JP van Deventer sê wat die Xcel-program uniek maak, is dat dit leerders aan die universiteitslewe voorstel voordat hulle hulle amptelike studies begin. “Dit help jou om geleidelik voor te berei vir al die uitdagings van studentwees, terwyl dit jou leer hoe om alles te hanteer en in jou akademiese loopbaan uit te blink.”

...

Elza Hattingh is ’n kundige op die gebied van universiteitstoelating. Sy het die Xcel-program gekonseptualiseer en opgestel. “Dit het al ’n groot invloed gehad op die toekoms van talle talentvolle ingenieurs wat dalk nie daarin sou slaag om hulle loopbane te volg sonder die geleenthede wat geskep is nie.”

 

 

Submitted on Mon, 11/06/2023 - 11:45