Wesensinflasie toon welkome daling

Goeie ekonomiese nuus is dat die verbruikersprysindeks (VPI) (wesensinflasie) vir Julie weer eens ’n welkome dalingstendens getoon het deur vanaf 5,4% in Junie na 4,7% te daal.  

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dit is nie net ’n tweejaarlaagtepunt vir die VPI nie, maar is ook heelwat beter as die markverwagtings.

“Kerninflasie het verder vanaf 5,0% tot ’n tienmaande-laagtepunt van 4,7% afgeplat. Die vooruitsigte ten opsigte van inflasie in Suid-Afrika lyk belowend.”

Volgens prof Parsons is dit waarskynlik dat die dalende tendens in die inflasiekoers vir die res van die jaar sal voortduur, met inflasie wat goed binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se 3- tot 6%-inflasieteikenband sal bly.

“Terwyl die dalende inflasiekoers positief is, is daar steeds risiko’s dat inflasie kan styg, insluitende die kwesbare rand en geadministreerde pryse soos Eskom se tariewe.”

Prof Parsons sê hierdie beter nuus op die inflasiefront is bemoedigend vir verbruikers- en sakevertroue. “Daar is ’n voldoende blywende tendens van verbetering in die inflasievooruitsig sodat die Monetêrebeleidskomitee geregverdig sal wees om by sy vergadering volgende maand die rentekoerse weer onveranderd te laat.”

Submitted on Thu, 08/24/2023 - 09:45