Werkswinkel om jou netwerkingsvaardighede te slyp

Daar word gesê dat geen mens ’n eiland is nie, en dit is veral waar ten opsigte van netwerking in besigheid. Daarmee in gedagte is dit vir nuwe sowel as gesoute entrepreneurs belangrik dat hulle netwerkingsvaardighede op peil is om by die voordele van aktiewe besigheidsnetwerke te baat.

Op Woensdag 28 Februarie 2018 bied die bhive EDC (Ondernemingsontwikkelingsentrum) by die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark ’n werkswinkel oor effektiewe netwerking aan. Deur hierdie inisiatief wil die bhive EDC – wat onder die beskerming van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe funksioneer – entrepreneurs en lede van die gemeenskap bemagtig om nie net gehaltenetwerke te vestig nie, maar ook om daardie netwerke in stand te hou om te verseker dat hulle ’n lang lewe het.

Volgens Annelie Steenkamp, ’n lid van die bhive EDC se bestuurspan, kan effektiewe netwerking die skaal van mislukking na sukses swaai. “Dit gebeur dikwels dat entrepreneurs so gefokus is op die verkoop van hulle produkte of dienste dat hulle onbewustelik nalaat om netwerke te bou,” sê Annelie, en voeg by dat netwerking ’n waardevolle manier is om jou kundigheid uit te brei, te leer uit die sukses van ander, nuwe kliënte te verkry en mense van jou besigheid te vertel. Sy verduidelik verder dat die gehalte van ’n besigheidsnetwerk baie meer werd is as die getal netwerke wat jy dalk mag hê.

Die voordele van kwaliteitnetwerke

“Die dae wat ’n mens ’n besigheid kon begin en aanvaar het dat jou kliënte jou sal volg, is iets van die verlede,” sê Annelie, en voeg by dat kwaliteitnetwerke in vandag se mededingende mark ’n besigheid se basis direk beïnvloed. ’n Kwaliteitnetwerk se invloed kan die volgende impak hê:

  • Skep geleenthede om met jou markvoetspoor saam te werk en dit uit te brei
  • Identifiseer nuwe of bykomende sakevennote
  • Bou vertroue
  • Ontwikkel ’n ondersteuningstelsel met mense wat ’n soortgelyke passie en oortuiging deel
  • Brei jou kennis en vaardighede uit

Bespreek vandag nog jou plek

Vir meer inligting of om jou plek te bespreek, kontak die bhive EDC deur ’n e-pos te stuur aan bhive@nwu.ac.za of deur 016 910 3393 te skakel. Die koste van die werkswinkel is R100 per persoon.

Submitted on Mon, 02/26/2018 - 10:55