Wanneer poppe praat, luister kinders!

Die energie in die vertrek vol vyfjariges is amper tasbaar. Die oomblik wanneer die musiek begin speel en die fluweelgordyne oopskuif, blink hulle ogies van verwondering en almal raak stil. Dit is tyd vir die poppe om te praat en die kinders om te luister.

’n Poppespel speel ’n belangrike rol in die deel van kennis, veral wat jong kinders betref.

Volgens dr Ria Booysen, ’n senior lektor aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Opvoedkunde, kan poppe in die hande van onderwysers die weg vir waardevolle leergeleenthede in talle ontwikkelingsareas baan.

“Poppe is onderhoudende speelgoed wat kan help om mondelinge taalvaardighede en kommunikasie, en sosiale en emosionele ontwikkeling te ondersteun, en kinders te help om die wêreld om hulle deur veilige en verbeeldingryke spel te leer ken en te verstaan,” verduidelik dr Booysen.

Daarmee in gedagte word studente in die BEd Grondslagfase-kursus vanaf hulle eerste studiejaar die kuns van poppespel geleer. Tydens hulle vierde jaar moet hierdie studente die poppe op ’n praktiese manier by hulle lesplanne insluit, self lewensgetroue poppe skep, en interaktiewe tekste kan skryf wat ’n morele lessie insluit. Kortom: hulle moet die tegniese aspekte van ’n effektiewe poppespel bemeester.

’n Jaarlikse werkswinkel oor poppespel dien as vertrekpunt, waarna studente hulle eie karakters en poppe moet ontwikkel – dit sluit metodologiese eienskappe soos beweeglikheid, verskillende spraakaksente en die identiteit van die poppe in. Studente word deur die kuns van poppespel bemagtig om al die kennis en vaardighede wat hulle tydens hulle vier jaar van studie verwerf het binne die omvang van grondslagfase-onderrig aan te wend.

Die studente het hierdie jaar verskeie poppespele by kleuterskole in die Vanderbijlparkdisktrik opgevoer.

“Aangesien poppespel elemente van alle kunsvorms insluit, soos letterkunde, skilderwerk, beeldhouwerk, dans en drama, stel dit studente in staat om hulle kreatiewe vermoëns ten volle te ontwikkel,” verduidelik dr Booysen. Sy verduidelik verder dat wanneer studente hulle tekste vir ’n poppespel skep, hulle aan ’n streng stel kriteria moet voldoen, insluitende interaktiwiteit, die inagneming van die ouderdomsvlak van hulle gehoor, die verband met die onderwysleerplan, en die gebruik van bykomende rekwisiete om begrip en betekenis duidelik te maak.

Dr Booysen sê dat studente ook hulle poppe kan gebruik om ekstra geld te verdien deur by skole en dagsorgsentrums op te tree en sodoende bykomende entrepreneursontwikkeling aan te moedig. Die poppe word gebruik om kinders te help om nuwe kennis op te doen, deur trauma te werk, sensitiewe kwessies soos seksuele mishandeling, rassisme en boeliery te verduidelik, asook om woordeskat en kommunikasievaardighede uit te brei.

Dr Booysen saam met ’n groep studente en hulle poppe.

’n Student wat ’n poppespel vir die kleintjies by ’n kleuterskool aanbied.

Submitted on Thu, 11/08/2018 - 12:41