Die besluit van die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) op 31 Julie om weer eens die rentekoerse met ’n verdere 25 basispunte (bps) te verlaag, is in die huidige omstandighede die regte besluit vir die ekonomie.
Dit is die mening van prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool. In sy kommentaar op die besluit sê prof Parsons die inflasievooruitsig is nou steeds goed binne die SARB se teikenstrek en die ekonomie sukkel met ’n trae groei in die bruto binnelandse produk (BBP) van waarskynlik minder as 1% hierdie jaar.
“’n Verdere verslapping in leenkoste vir sakeondernemings en verbruikers ondersteun dus toekomstige ekonomiese aktiwiteit. Die laer leenkoste is positief vir vertrouensvlakke op ’n tyd wat die begin van ekonomiese herstel sukkel om momentum te verkry indien ’n mens die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) se groeivooruitsig van 3% op die medium termyn in gedagte hou. Die MBK het ook sy groeivooruitsig vir 2025 verder ingekort.”
Prof Parsons sê dit is uiters onseker of daar hierdie jaar verdere rentekoersverlagings kan wees. Daar is wêreldwye onsekereheid as gevolg van die VSA se tariewe. “Suid-Afrika moet nou die komplekse ekonomiese impak van die hoër VSA-tariewe op die plaaslike ekonomie hanteer en stappe doen om die skokke teë te werk om die situasie te versag.”
Volgens prof Parsons beraam ’n ergste scenario die omvang van ’n verlies in Suid-Afrika se ekonomiese groei op tussen 0,4% tot 0,7%, afhangende van watter remediërende maatreëls uiteindelik geïmplementeer kan word.
“Daar moet ook finaliteit wees oor die belangrike waarskynlikheid van ’n laer inflasiemikpunt van 3%, in welke geval die SARB aangedui het dat hulle leenkoste vir langer hoër sal moet hou. Die dialoog met die Nasionale Tesourie is skynbaar steeds aan die gang. Dit is ook nog nie duidelik of die nodige politieke ondersteuning vir en instemming tot die verandering van die inflasiemikpunt verkry is nie,” sluit hy af.