Viva Las Vegas! Trio op pad na Golden Key internasionale beraad

Siboniso Jam-Jam, Sphumelele Ngomane en Kgomotso Mashigo is op pad om op ’n belangrike internasionale avontuur te vertrek deur die jaarlikse Golden Key internasionale beraad van 2017 in Las Vegas, Nevada by te woon.

Die driemanskap – almal studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark – gaan van 27 tot 30 Julie die internasionale konferensie bywoon. Daar sal afgevaardigdes van regoor die wêreld vir drie dae vol pret by die beraad byeenkom. Die gebeurtenis sluit werkswinkels, sprekers, gemeenskapdiensgeleenthede en baie meer in. ’n Hoogtepunt van die gebeurtenis is ’n aanbieding deur Michael Crossland, een van Australië se mees gesogte inspirasiesprekers. Michael het ’n lewensbedreigende kanker oorwin en buitengewone prestasies in sy lewe behaal.

Vir Siboniso, wat vir die eerste keer na die buiteland gaan reis en wat tans die voorsitter van die kampus se Golden Key-afdeling is,

beteken die bywoning van die beraad verskriklik baie. “Deur die beraad by te woon, sien ek letterlik hoe my harde werk en toewyding vrugte dra,” sê Siboniso, en voeg by dat die beraad nie net gemik is op boekgeleerde jongmense nie, maar ook op opkomende leiers en besluitnemers. “Ek kan nie wag om my ervarings met my medestudente te deel nie, aangesien dit hulle weer sal motiveer om die meeste van geleenthede soos hierdie te maak. Saam met Sphumelele en Kgomotso gaan ons die NWU se vaandel hoog hou.”

Die drie studente is onderskeidelik besig met hulle finale studiejaar in BCom Ekonomie en Risikobestuur, BA Bedryfsielkunde en Arbeidsverhoudinge, en BA Sielkunde en Sosiologie.

Submitted on Thu, 07/27/2017 - 09:13