Vennootskap bemagtig Malawiese dieetkundiges

’n Kundige span dokters en verpleegkundiges is nodig om doeltreffende behandeling te verseker vir pasiënte wat kritiek siek is. ’n Noodsaaklike toevoeging tot hierdie span is die dieetkundige, aangesien studies getoon het dat sonder die leiding van voedingskundiges, talle pasiënte aan wanvoeding ly terwyl hulle in die hospitaal versorg word.

Die Dieetkundeprogram in die Skool vir Toegepaste Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het baie jare se ervaring in die opleiding van kwaliteit-dieetkundiges in Suid-Afrika.

’n Vennootskap tussen die NWU en die Lilongwe Universiteit van Landbou en Natuurlike Hulpbronne (LUANAR) in Malawi gee aan Malawiese studente die geleentheid om broodnodige praktiese blootstelling te verkry terwyl hulle hul studies voltooi.

Hierdie samewerking is deel van ’n memorandum van verstandhouding (MvV) tussen die twee instellings, en stel vier groepe Malawiese studente in staat om praktiese blootstelling in intensiewesorgeenhede by plaaslike hospitale in Noordwes op te doen. Dit sluit die Potchefstroom Hospitaal, die Klerksdorp-Tshepong Tersiêre Hospitaal en die Mediclinic in.

Geboorte van ’n nuwe dieetkundenetwerk

Doris Nanga het haar meestersgraad aan die NWU voltooi voordat sy na Malawi teruggekeer het en tans haar loopbaan as dosent in Kliniese Dieetkunde by LUANAR volg, waar sy ’n nagraadse koördineerder is.

Sy sê vir baie jare het Malawi nie dieetkundiges opgelei of hulle in hospitale in diens gehad nie. “Ons het ’n program nodig gehad wat in ’n korter tydperk as die volle vierjaarprogram ’n bydrae tot die arbeidsmag kon lewer.” 

LUANAR het ’n tweejaar- Nagraadse Diploma in Hospitaaldieetkunde ontwikkel om hierdie leemte te vul.  Kandidate wat reeds ’n basiese kwalifikasie in voeding of ’n BSc-graad in Menslike Fisiologie het, kan inskryf vir die nagraadse diploma, wat hoofsaaklik op hospitaaldieetkunde fokus. 

Die studente voltooi die mediese en pediatriese blokke van hulle studies in Malawi, maar die behoefte was in die blok vir kritieke sorg, wat ’n kleiner deel van die volle program is. 

Dit is waar die NWU betrokke geraak het. Doris het na haar mentor, prof Robin Dolman-Macleod, medeprofessor in en programleier vir Dieetkunde by die NWU, uitgereik. Hulle het die geleenthede bespreek om die opleiding van Malawiese dieetkundiges uit te brei.

Dit het tot die ondertekening van die MvV in 2022 gelei, en die eerste groep van sewe studente het die NWU in Januarie 2023 agt weke lank besoek. Hierdie groep het aan die einde van verlede jaar gegradueer. Die tweede groep is tans met hulle praktiese blootstelling in Suid-Afrika besig, met die derde en vierde groepe wat onderskeidelik in 2025 en 2026 hier sal aansluit.

Noodsaaklike vaardighede om pasiëntesorg ’n hupstoot te gee

“Hulle verkry waardevolle vaardighede in die verskaffing van voedingsondersteuning aan pasiënte wat nie self kan eet nie, maar afhanklik is van ’n voedingsbuis of wat voeding direk in hulle are moet ontvang.”

Doris sê die studente het die geleentheid om met ’n groot verskeidenheid pasiënte te werk, insluitende vroeggebore babas, kinders en ouer mense wat operasies ondergaan het, slagoffers van voertuigongelukke, pasiënte met brandwonde en diabetiese pasiënte wat kritiek siek is, asook kankerpasiënte. 

Die program word befonds deur die Verenigde State se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAID) deur middel van die Voeding vir Gesondheid-aktiwiteit, wat deur dr Tinna Manani in die Fakulteit Voedsel en Menslike Wetenskappe by LUANAR gelei word. Die geld dek die koste van visums, vlugte, verblyf, voedsel, vervoer en betaling vir plaaslike dieetkundiges wat vir Doris en prof Dolman-Macleod as dieetkundige leermeesters (soortgelyk aan mentors) help. 

Doris hoop dat die Malawiese regering die program sal aanvaar en moontlik die hospitale in Malawi toerus sodat die program ná 2026 kan voortgaan.

Die onmeetlike waarde van samewerking

Volgens prof Dolman-Macleod is dit nie net die praktiese blootstelling wat veral voordelig is vir studente van beide die NWU en Malawi nie. “Die interaksie tussen studente lewer ook ’n bydrae tot ’n groter netwerk van dieetkundiges. Ons het met die eerste groep gesien dat vriendskappe en netwerking voortgaan, selfs nadat hulle studies voltooi is.”

Die NWU se vierdejaarstudente moet 10 weke in ’n hospitaalopset deurbring, met ’n paar van hierdie weke wat op kritieke sorg fokus. Prof Dolman-Macleod en Doris reël hierdie praktiese komponent om met die besoek van die Malawiese studente saam te val om hulle die kans te gee om met mekaar te skakel en ervarings te deel. Hierdie interaksie behels ook leierskapsontwikkeling en ander aktiwiteite.

“Ons visie by die Skool vir Toegepaste Gesondheidswetenskappe en ook by die NWU se Sentrum vir Uitnemendheid vir Voeding (CEN) is om vakkundiges in voeding in Afrika te ontwikkel. Dit is belangrik om ons kundigheid en suksesse met ander lande te deel,” sê prof Dolman-Macleod. “Hierdie inisiatief is ’n goeie voorbeeld van waar ons ’n groot geleentheid het om hierdie doelwit te bereik.”

Die tweede groep van die Malawiese studente van Lilongwe University of Agriculture and Natural Resources (LUANAR) het die NWU in Maart 2023 besoek. Hulle is voor Lusekero Mwandosya en Bongani Mkandawire. Agter is Prof Robin Dolman-Macleod, Anjawo Nyirenda, Christina Kandewu, Doris Nanga en Rejoice Kachingwe.

Submitted on Wed, 03/27/2024 - 12:32