Van oorlewing tot groei: skep ’n beter toekoms vir slagoffers van seksuele misbruik

Die hartverskeurende realiteit van die seksuele misbruik van kinders is ’n wêreldwye euwel wat twee navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) aanpak deur oorlewendes te help om hulle trauma te hanteer en te groei.  

Die wêreldwye voorkoms soos dit in 22 lande gemeet is, dui daarop dat 18% tot 20% van meisies en 8% tot 9% van seuns hierdie trauma op een of ander stadium van hulle lewe moet verwerk.  

Die interdissiplinêre navorsing deur prof Ansie Fouché en dr Hayley Walker-Williams kyk na hoe die slagoffers van sulke gruweldade oorleef en of dit moontlik is vir hierdie vroue om te groei.  

Ansie is ’n medeprofessor en geregistreerde maatskaplike werker op die Vanderbijlparkkampus van die NWU.  Sy is ’n navorser en leier van die subprogram “Pathways to Resilience and Post-Traumatic Growth” in die Optentia-navorsingsprogram.

Hayley is die vakhoof van die Sielkundedepartement by die Fakulteit Geesteswetenskappe op die Vanderbijlparkkampus. Sy is ’n praktiserende kliniese sielkundige en navorser in dieselfde subprogram in Optentia.

Saam bestuur hierdie twee kundiges ’n navorsingsprojek getiteld “Survivor to Thriver” (S2T), wat daarop gemik is om posttraumatiese groei te fasiliteer by Suid-Afrikaanse vroue wat as kinders seksueel misbruik is.

Groepervaring bevorder genesing
Hierdie nuut ontwikkelde groepintervensieprogram fokus op die persoon se sterk punte, ondersteun ’n gebalanseerde benadering en gebruik ’n samewerkende mengsel van tradisionele (wat’s verkeerd) en sterkpunt-gebaseerde (wat’s sterk) teorieë. Die doel is om traumaverhale in ’n veilige, helende groepkonteks te herskryf. Vroue is getuies van mekaar se genesing en daar word besin oor individuele sterk punte en die vermoëns wat gebore is uit die stryd om kindertrauma te verwerk.

Die groepkonteks word die medium vir genesing en die kundige fasiliteerder die navigator na genesing. Die fasiliteerder werk saam met en beskou die vrou as die kundige oor haar eie lewe.

Die bevindings van Hayley se PhD-studie, tesame met die literatuur en die ervaring van die twee kundiges en hulle dissiplines, is toegepas op die ontwikkeling van die S2T-program – meer formeel as die “Survivor to Thriver Strength-Based Intervention for Female Adult Survivors of Child Sexual Abuse” bekend. Die twee navorsers het die ondersoek met twee groepe vroue geloods, en kwalitatiewe en kwantitatiewe voor- en na-evaluerings gedoen. Die na-evaluerings het getoon dat die vroue posttraumatiese groei-uitkomste aangemeld het nadat hulle aan die program deelgeneem het.

Hulle longitudinale studie het befondsing van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang en staan aan die begin van die derde en finale jaar.

Navorsing is van internasionale belang

Hierdie navorsing het Ansie en Hayley regoor die wêreld geneem, en hulle berei tans voor om met die Accident Compensation Corporation (ACC) in Nieu-Seeland te vergader. Die ACC is die nasionale organisasie wat beoog om omvattende, skuldlose persoonlikebenadelingsdekking vir alle inwoners van Nieu-Seeland en besoekers aan die land te verskaf. Terwyl Hayley die program by ’n internasionale konferensie aangebied het, het sy ’n afgevaardigde van die Universiteit van Otago ontmoet wat besef het watter waarde die program kan inhou vir die slagoffers van seksuele misbruik of aanranding wat deur hulle bygestaan word.  ’n Deel van hulle besoek sal wees om die implementering van die program vir die ACC te fasiliteer.

Die program het ook in die Verenigde State aandag getrek. ’n Artikel oor die program is in ’n werfjoernaal van die Oxford Institute of Population Aging (http://www.ageing.ox.ac.uk/blog/2016-Survivor-to-Thriver-BLOG) gepubliseer, waar dit deur die internasionaal-bekende skrywer, doula en kindergeboortekundige, Penny Simkin, gelees is.  Simkin, wat sedert 1968 in opvoeding oor kindergeboortes en kraamondersteuning spesialiseer, skat dat sy meer as 13 000 vroue, paartjies en broers en susters op kindergeboorte voorberei het.  Sy beskou die S2T-program as ’n oplossing vir voornemende moeders wat nog sukkel met die littekens van seksuele misbruik in hulle kinderjare.  

In hulle voorbereidings vir die begin van die derde jaar van intervensie is Hayley en Ansie baie opgewonde oor wat die toekoms inhou.  “Daar is talle faktore wat die sukses van die program kan beïnvloed,” sê Ansie.  “Ons glo egter dat ons studie sal bewys dat die program werklik werk.  Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons glo dat die program ’n beter toekoms vir hierdie vroue kan bewerkstellig.”

 
Prof Ansie Fouché (links) en dr Hayley Walker-Williams se interdissiplinêre navorsing fokus op hoe die slagoffers van seksuele misbruik in hulle kinderjare kan oorleef en groei.  

 

Submitted on Wed, 03/29/2017 - 15:35