Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning help om R100 000 vir 2024 se NWU-studente te verseker

Dit was ’n impulsiewe besluit, maar sy het geweet dit kan werk. Soos die Springbokke en hulle miljoene ondersteuners, het sy geglo dit gaan waar word.

Toe kaptein Siya Kolisi die Webb Ellis-trofee omhoog lig nadat die Springbokke die All Blacks in die finaal van die IRB Rugby Wêreldbeker in Frankryk met 12-11 geklop het, het Nomvula Chasakara, voorsitter van die Potchefstroomkampus se Studenteraad (PKSR) aan die Noordwes-Universiteit (NWU), en haar toegewyde span verseker dat R100 000 toegewys gaan word om sukkelende studente met hulle registrasiegeld vir 2024 te help.

Op die dag van die epiese finaal is ’n groot televisieskerm in die Amfiteater op die Potchefstroomkampus opgerig en kaartjies om na die wedstryd te kyk, is aan studente verkoop. In totaal was daar 2 100 sitplekke teen R20 per kaartjie of R30 vir twee kaartjies beskikbaar. Teen 19:45, meer as ’n uur voor die afskop, was daar nie ’n leë sitplek in sig nie.

Dit is alles in samewerking met die kantoor van die visekanselier, prof Bismark Tyobeka, die kantoor van prof Daryl Balia, Potchefstroomkampus se adjunk-visekanselier, die kantoor van dr Corrie Rheeder, direkteur van Studentelewe op die Potchefstroomkampus, en die kantoor van Danie Hefer, bestuurder van die Sentrale Beurskantoor, gedoen, wat almal bygedra het om die wonderlike bedrag van R100 000 ’n werklikheid te maak. Nomvula en haar span het R33 000 ingesamel, met laasgenoemde drie kantore wat die res borg. Die fondse sal deur die Sentrale Beurskantoor versprei word.

Dis hoe alles begin het.

“ Ek, die ondervoorsitter van die PKSR en die beampte vir Studentebelange en Ontwikkeling het besluit om na die Studentelewe-kantoor te gaan om ons idee aan dr Corrie Rheeder voor te lê. Ons het verduidelik dat ons graag die finaal van die Rugby Wêreldbeker wil gebruik om geld in te samel, met al die opbrengste wat sal gaan om studente te help om volgende jaar te registreer. Sy het gesê indien die registrateur dit goedkeur, ons op haar kon staatmaak. Ons het toe met die registrateur gaan praat, wat gesê het ons kan voortgaan. Ons het besluit om prof Bismark Tyobeka uit te daag om die kaartjieverkope te ewenaar. Hy het gesê dat hy nie net by ons sal aansluit nie, maar dat hy ook die kaartjieverkope sou ewenaar,” verduidelik Nomvula.

“Ons het teen Saterdag reeds meer as 1 200 kaartjies verkoop. Die aand het ons nog 870 verkoop. Die studente het in groot getalle opgedaag. Dit was so opwindend en ons as die PKSR was baie trots. Daar was geen insidente tydens die dag of die wedstryd nie. Almal het net bymekaargekom om die Springbokke te ondersteun. Prof Daryl Balia was gaaf genoeg om die televisieskerm te borg, en ons ander uitgawes het ongeveer R12 000 beloop, dus was dit ’n groot sukses. Dit was ’n skielike besluit en almal wat betrokke was, het net ongelooflik saamgewerk.”

Die Springbokke is dalk vir die vierde keer as die wêreldkampioene gekroon, maar die studente van die NWU het weer eens getoon waarom hulle omgeekultuur wenners van ons almal maak.

....

....

Submitted on Thu, 11/02/2023 - 08:57