SOWASK vier Internasionale Maatskaplike Werk-dag

“Ons koester menseverhoudinge en bevorder Ubuntu en diversiteit op en om ons kampus.”

Dit is hoe Tracy Mkanazi, junior dosent in maatskaplike werk en voog van die Maatskaplike Werk Studentevereniging (SOWASK) op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, dit waarvoor SOWASK staan beskryf.

SOWASK het onlangs ter viering van Internasionale Maatskaplike Werk-dag die kampusgemeenskap in ʼn optog oor die kampus gelei. Die beroep staar vele uitdagings in die gesig en SOWASK wou elke maatskaplike werker vereer wat daagliks in die veld lewens aanraak en ʼn verskil maak ten spyte van hierdie uitdagings. 

 

Gretig om te stap... sommige van die deelnemers in hierdie jaar se SOWASK-optog ter viering van Internasionale Maatskaplike Werk-dag.

Die optog het voor die kampusbiblioteek begin en by die studentesentrum geëindig. Meer as 100 studente, uitgevat in helder kleure en met helderkleurige ballonne in die hand, het aan die optog deelgeneem. Hoewel SOWASK die geleentheid aangebied het, het deelnemers van alle dele van die kampusgemeenskap saamgestap. Hulle het verskillende studenteverenigings verteenwoordig en het akademiese en ondersteuningspersoneel ingesluit.

SOWASK kon veral met die tema van Internasionale Maatskaplike Werk-dag 2019 identifiseer, naamlik “Promoting the importance of human relationships”. “Ons het besef dat hoewel ons kampus diversiteit aanmoedig, mense hulself steeds binne hierdie diverse omgewing isoleer,” verduidelik Tracy.

“Dit is moeilik om somtyds iemand te groet wat jy nie ken nie, en met hierdie optog hoop ons om dit te verander. Ons sal voortaan saamstap en ons as ʼn verenigde front voorhou.”

SOWASK sien dit as hul missie om ʼn soliede grondslag te lê sodat almal – ongeag geslag, ras, of seksuele oriëntasie – hulself kan uitdruk sonder om geoordeel te word. Hulle hoofdoel is om ʼn kampusomgewing te skep waar almal inpas.

 

 

Submitted on Mon, 04/08/2019 - 15:10