Slimstasie by die NWU sal luggehalte en weer moniteer

Vanderbijlpark, ’n besoedelingsknelpunt, is gekies as die ligging van ’n moderne waarnemingstasie wat die weer sowel as die luggehalte sal moniteer.

Hierdie multimiljoenrandontwikkeling sal maak dat die Noordwes-Universiteit (NWU) die eerste hoëronderwysinstelling in die land word wat ’n permanente moniteringstasie op hulle terrein sal huisves. Die projek is die breinkind van die Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.

Volgens Emile Hoffmann, ’n dosent en navorser in die vakgroep Geografie en Omgewingstudie, sal hierdie waarnemingstasie ’n bydrae tot die hantering van die uiterste gebrek aan vaardighede in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM-vaardighede) in die land lewer.

Terwyl dit gaan help om die getal STEM-gegradueerdes van die universiteit te laat toeneem, sal die projek die NWU se vermoë versterk om relevante navorsing met ’n impak op die gebied van omgewingstudie uit te voer. 

Navorsingsbaken in die Vanderbijlpark

Wat die projek selfs meer noemenswaardig maak, is posisionering daarvan in die Vanderbijlparkstreek.

Die kampus is op die walle van die Vaalrivier – een van Suid-Afrika se mees besoedelde waterbronne – geleë, en is reg in die middel van ’n lugbesoedeling-prioriteitsarea (APPA). Dit is die perfekte ligging vir ’n waarnemingstasie soos hierdie.

“Wat aspekte soos luggehalte en lugbesoedeling betref, is areas binne die streek – insluitende Emfuleni, Midvaal, Doornkop, Soweto, Diepkloof, Ennerdale, Orange Farm en Metsimaholo – bekend vir hulle omgewingsprobleme,” sê Emile.

Hy sê dat die stasie navorsers in staat sal stel om harde data in te samel en deurlopende metings te doen om intervensieprogramme te ondersteun en verdere wetenskaplike ondersoeke aan te moedig.

Die span wat die waarnemingstasieprojek hanteer, werk saam met kundiges by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) om optimale tegniese presisie te verseker wat intydse biomoniteringstelsels betref.
 
Hierdie stelsels sal nie net meteorologiese parameters soos reënval, lugtemperatuur, windspoed en windrigtings dek nie, maar ook geselekteerde prioriteitsparameters vir die karakterisering van luggehalte wat op lugbesoedelingsbronne daar naby, asook die watervlakke en gehalte van die water in die Vaalrivier, gegrond is.

Die voordelige langtermynvennootskap tussen die NWU en die SAWD sal ook sorg dat die volgende ontwikkelings vorm aanneem:

  • Geleenthede vir studente om hulle praktiese ervaring by die SAWD as ’n toekomstige werkgewer uit te voer.
  • Die inisiëring van nagraadse navorsingsprojekte oor verwante onderwerpe wat volgens toegepaste navorsingsbehoeftes uitgevoer word met die SAWD as medetoesighouer en selekteerder daarvan.  
  • Internasionale samewerking tussen Suid-Afrikaanse waarnemingsnetwerke en gevestigde wêreldwye netwerke.


Data vir die deel van kennis

Emile verduidelik dat ’n ondersteunende slimfoonapp, SAAQIS*, verder tot die impak van die stasie sal bydra, aangesien dit gebruikers in staat sal stel om omgewingsmoniteringsdata met die blote druk van ’n knoppie in die hande te kry.

Die vooruitsig is dat die stasie deel sal word van die globale netwerk van moniteringstasies deur aan die standaarde van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie te voldoen. Volgens Emile sal dit navorsers van die NWU in staat stel om data wat ingesamel is, te deel – nie net met die algemene publiek nie, maar ook met die internasionale wetenskapgemeenskap.

* Die Suid-Afrikaanse Luggehalte-inligtingstelsel-app (SAAQIS-app) kan gratis van die Google Play Store afgelaai word en is met alle slimfoontoestelle versoenbaar.

Emile Hoffmann

Submitted on Tue, 10/08/2019 - 10:09