Ses–stroop vir tennisster Johann

Dit is nou 148 jaar gelede sedert die Fransman Pierre Babolat natuurlike derms – dié van ’n bees – geneem het om snare vir ’n tennisraket te maak. Nou gebruik die topgekeurde manlike tennisspeler by die Noordwes-Universiteit (NWU) sy Babolet Pure Drive-raket om sy opponente op tennisbane regoor die land rond te jaag.

Trouens, die 20-jarige Johann Coetzee, wat Besigheidsbestuur aan die NWU studeer, het vier van hierdie wapens tot sy beskikking om sy aanvalle te loods: “My gunstelinghoue is my afslaan en my voorhandhou,” verduidelik hy vrolik.

Een van Johann se jongste prestasies is dat hy ’n bronsmedalje by die Growthpoint Top Guns-toernooi gewen het, en ook talle ander verskynings op die podium by Tennis Suid-Afrika se toernooie gemaak het.

Johann is in Pretoria gebore en het aan die Hoërskool Garsfontein gematrikuleer voordat hy sy opvoeding – in die klaskamer en op die tennisbaan – op die NWU se Potchefstroomkampus voortgesit het.

“My liefde vir die spel kom van my pa (Nico), en ek speel tennis sedert ek kan onthou. Ek het dit nog altyd geniet en ek het nog nooit aan enige ander sport deelgeneem nie,” sê Johann.

“Daar is ’n sterk sielkundige aspek aan die sport en die hoeveelheid druk wat jy moet kan hanteer kan senutergend wees, maar dit is waarvan ek hou.”

Dit is daarom dat hy na spelers soos Roger Federer en Novak Djokovic opsien, aangesien hulle ongeëwenaard is in hulle vermoë om die druk te kan hanteer.

Hy is van kleins af deur Frans Cronjé afgerig, en word nou afgerig deur die NWU se hooftennisafrigter, Riaan Venter.

“Riaan het soveel ervaring en hy gee werklik vir jou as persoon om.”

Johann het al in lande soos die VSA, Rwanda en Botswana deelgeneem, maar dit kom nie sonder opoffering nie.

“Dit is baie harde werk en ek oefen ongeveer twee uur per dag. Hoewel ’n mens soms moeg raak van al die oefening, is dit altyd opwindend om aan wedstryde deel te neem.”

Wanneer hy nie tennis speel nie, is hy besig om George RR Martin se epiese fantasiereeks, A Song of Ice and Fire, te lees, waarin die karakter Stannis Baratheon toevallig ook sê: Opoffering is nooit maklik nie, anders is dit nie werklik ’n opoffering nie. As daar een persoon is wat dit weet, is dit Johann Coetzee.

...

Submitted on Thu, 07/06/2023 - 12:48