Sazini Mojapelo gaan leierskapinsig by die NWU-leierskapsberaad deel

Wanneer dit by besigheidstrategie en -ontwikkeling kom, het Sazini Mojapelo geen formele bekendstelling nodig nie. As uiters gesogte kundige in die vestiging, ontwikkeling en uitvoering van maatskaplike programme word Sazini, wat die groephoof van Africa Citizenship for Barclays Africa Group Limited is, wyd as ’n baanbreker in sosio-ekonomiese bemagtiging erken.

Gedurende die derde jaarlikse NWU-leierskapsberaad, wat op 10 Augustus 2017 plaasvind, sal Sazini by verskeie ander hoëprofielleiers aansluit om leierskapsuitdagings en -geleenthede binne die komplekse nasionale en internasionale sakesektor te bespreek. Die beraad, wat ’n dinamiese samewerking verteenwoordig tussen die Ukuvula-stigting en Studio55 Events and Production, sal by die Birchwood Hotel in Boksburg plaasvind.

Meer oor Sazini Mojapelo

Sazini is ’n passievolle leier en alumna van die beroemde Harvard-besigheidskool. Haar kundigheid lê in die ontwikkeling en uitvoering van strategiese planne wat met korporatiewe maatskaplike belegging, maatskaplike entrepreneurskap, en die bemagtiging van die jeug en vroue verband hou.

As die groepshoof van Africa Citizenship for Barclays Africa Group Limited is sy verantwoordelik vir die konsepbenutting, ontwikkeling en bestuur van die implementering van die gedeeldegroeistrategie – ’n strategie wat vaardigheidsontwikkeling, ondernemingsontwikkeling en finansiële insluiting regoor die vasteland as mikpunt het.

As iemand wat opgelei is as spesialis in strategie en ontwikkeling het Sanzi ’n dubbele meestersgraad in Sosiologie en Bedryfsielkunde, asook ’n meestersgraad in Ontwikkelingstudies van die Universiteit van Kaapstad. Voordat sy by Barclays Africa aangesluit het, was sy die HUB en stigter van Hand in Hand Southern Africa, ’n NRO met ’n fokus op mikro en kleinsake-ontwikkeling in buitestedelike en plattelandse gebiede.

Sazini het gedien as die voorsitter van die Business Bridge, ’n lid van die African Leadership Network (ASEN), lid van die Instituut vir Direkteure (IoDSA), ’n lid van die Afrika-leierskapsnetwerk (ALN) en ook lid van die Sakevrouevereniging (Business Women Association (BWA)).

Sy het in die regering, die burgerlike samelewing en korporatiewe omgewing gewerk, wat aan haar ’n unieke voordeel en stel vaardighede gee om openbare en privaat vennootskappe te bestuur. Sy het die vermoë om innoverende benaderings te gebruik om sosio-ekonomiese en sake-uitdagings aan te pak om kliëntegroei te bewerkstellig, en kritiese belanghebbers betrokke te kry.

Meer oor die NWU se leierskapsberaad

Hierdie jaar is die derde keer wat die beraad plaasvind en spog met ’n indrukwekkende paneel sprekers, insluitende: dr Adrian Saville (hoofstrateeg van Citadel en CannonAsset Managers), Bonang Francis Mohale (visepresident van Upstream en voorsitter van Shell South Africa Pty Limited), prof Raymond Parsons (professor by die NWU se Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur), prof Dan Kgwadi (NWU se visekanselier), Yusuf Abramjee (sosiale aktivis), Sazini Mojapelo (Groephoof: Korporatiewe Burgerskap by Barclays Africa), raadslid Bongani Baloyi (Uitvoerende Burgemeester: Midvaal) en regter Bess Nkabinde (’n regter in die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika).

Opbrengste van die beraad sal gaan aan die Ukuvula-stigting, ’n liefdadigheidsorganisasie sonder winsoogmerk wat gestig is om maatskaplike-ontwikkelingsinisiatiewe te koördineer en befonds. Die stigting se visie van “maak ’n verskil deur gedeelde leer, ontwikkeling en bemagtiging van mense” word onderskryf deur die feit dat die meeste van die hulp wat gegee word in die vorm van beurse vir tersiêre onderwys is. Studente van die NWU sal dus direk by hierdie inisiatief baat.

Vir meer inligting en om te registreer, besoek asseblief die beraad se webblad: http://www.nwu.ac.za/leadershipsummit_home

 

 

 

 

Submitted on Wed, 07/19/2017 - 11:41