Samewerking baan die weg vir Sharpeville 2020-ontwikkelingsplan

Die skep van ʼn beter wêreld verg spanwerk, vennootskappe en samewerking. Hierdie stelling deur prof Danie Meyer, senior lektor in ekonomie op die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), is ʼn perfekte opsomming van die samewerkingsbekwaamheid van die NWU, VAAL LED Warriors en die plaaslike gemeenskap van Sharpeville.

Die vakgroep vir Ekonomie op die Vanderbijlparkkampus, saam met die genoemde vennote het kragte saamgesnoer om ʼn plaaslike ekonomiese ontwikkelingsplan vir die township te formuleer. Sharpeville sal dien as die fokus van die loodsprojek, en is gekies weens sy ikoniese internasionale kulturele en historiese status, sy strategiese en geïntegreerde ligging in die Vanderbijlparkstreek en sy dinamiese en lewenskragtige sosio-ekonomiese omgewing.

Professor Meyer verduidelik dat die beoogde ontwikkelingsplan gefinaliseer sal word deur die honneursstudente in Ekonomie, met die ondersteuning van dosente in die vakgroep, gemeenskapsleiers en ander rolspelers soos die onderskeie sakekamers. Die oorhoofse ontwikkelingsplan sal bestaan uit of 8 subplanne wat die volgende insluit:

  1. Hoofstraatbuurt-ontwikkelingsplan.
  2. Ontwikkelingsplan vir toerisme en bemarking.
  3. Ontwikkelingsplan vir plaaslike hand- en kunswerk.
  4. Dhlomo-dam-ontwikkelingsplan.
  5. Ontwikkelingsplan vir dienslewering en gemeenskapsfasiliteite.
  6. Ontwikkelingsplan vir stedelike landbou.
  7. Kleinsake- en werkskeppingsplan.
  8. Ontwikkelingsplan vir die industrie/vervaardiging.  

Die ontwikkelingsplan sal na verwagting teen die einde van April 2017 afgehandel wees, waarna die plan tydens ʼn werkswinkel aan alle belanghebbendes voorgehou sal word, met inbegrip van plaaslike regeringstrukture, besigheidsorganisasies en plaaslike gemeenskappe. Die werkswinkel word beplan vir die eerste week van Mei 2017, in Sharpeville. Besonderhede sal mettertyd beskikbaar gestel word en die publiek is welkom om deel te wees van hierdie projek. Vir verdere besonderhede, kontak gerus vir Danie Meyer by daniel.meyer@nwu.ac.za

Meer omtrent die Vaal LED (Local Economic Development) Warriors

Prof Meyer, synde een van die stigterslede van die Vaal LED Warriors-beweging, verduidelik dat die Vaal LED Warriors ʼn gemeenskapsgroep is wat daartoe verbind is om nuwe lewe in die plaaslike ekonomie te blaas deur samewerking, netwerking en die ondersteuning van al sy lede. In kort: ʼn groep wat die Vanderbijlpark wil laat herleef as ʼn ekonomies stabiele en groeiende streek met die klem op entrepreneurskap, innovasie, werkskepping en volhoubaarheid.

Lede sluit in besigheidseienaars, industrieverteenwoordigers, entrepreneurs, gemeenskapsleiers en studente.

 

Prof Danie Meyer.

Submitted on Thu, 03/16/2017 - 10:10