Robofest 2017 – waar tegnologie, innovasie en ingenieurswese ontmoet

Op Saterdag, 4 Maart 2017, bied die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) die Suid-Afrikaanse Nasionale Robofest Kampioenskap 2017 aan. Hierdie jaar se kampioenskap dien as kwalifiseerder vir die internasionale kompetisie wat in Junie in Florida, VSA, gaan plaasvind.

“Die hoofdoel van 'n inisiatief soos Robofest is om leerders aan te spoor om wetenskap, tegnologie, ingenieurwese en wiskunde – of WTIW ("STEM") – soos dit meer algemeen bekend staan, aan te gryp,” verduidelik Malie Zeeman, dosent by die Skool vir Inligtingstegnologie op die kampus en een van die organiseerders van die geleentheid. Volgens Zeeman is Robofest 'n fees van kompetisies en gebeurtenisse met outonome robotte wat leerders aanspoor om pret te hê terwyl hulle leer van die beginsels van fisiese wetenskap, rekenaarwetenskap, tegnologie, ingenieurswese, wiskunde en inligtings- en kommunikasietegnologieë (IKT). Leerders ontwerp, bou en programmeer hul eie robotte.

Sy voeg by die leerders individueel of in spanne kan deelneem. Die kampioenskap maak vir drie ouderdomsgroepe voorsiening: Graad 4 – 8, Graad 9 – 12 en die gevorderde VCC-afdeling (Vision Centric Challenge) vir hoërskoolleerders en universiteitstudente.

Op 4 Maart sal 12 skole van regoor sentraal Suid-Afrika aan Robofest deelneem. Dit sluit in Kollegepark, Emfulenipark Primary, D.F Malherbe, Transvalia, Hoërskool Driehoek, Eligwa, Vaalpark, St. Benedicts, Cornwall Hill College, Orion Laerskool, Sheti Skool en 'n aantal tuisskoolleerders.

Meer oor die Robofest Kampioenskap

Robofest het die wêreld aan die gons sedert dit in 2000 ontstaan het. Meer as 16 000 leerders het in die afgelope 15 jaar aan Robofest deelgeneem, insluitende spanne uit 13 Amerikaanse state, Engeland, Kanada, China, Frankryk, Indië, Brasilië, Suid-Korea, Mexiko, Singapoer en Suid-Afrika.

Volgens Pieter Pretorius, Suid-Afrika se Robofest-verteenwoordiger, is vanjaar die derde jaar dat die gebeurtenis deur die Vanderbijlparkkampus aangebied word. In 2014 het een junior span (JomoSoco) en een senior span (Dragons) gekwalifiseer om die land met trots by die internasionale been van die kompetisie te verteenwoordig. In 2015 het die senior afdeling weereens die podium bestyg met die span van Helpmekaar College wat die internasionale uitstallingskategorie gewen het.

By Robofest 2017 sal individue, skole en spanne in die volgende kategorieë meeding:

  • Gameplay
  • Exhibitions
  • Vision Centric Challenge

Pretorius verduidelik daar in sewe verskillende kategorieë aan die internasionale kampioenskap deelgeneem word, en dat die Suid-Afrikaanse organiseerders hard werk om voor die einde van die jaar ten minste nog twee kategorieë te vestig. Ekstra kategorieë sluit in: Bottle Sumo, Robo Parade, GRAF (Global Robotics Art Festival) en UMC (Unknown Mission Challenge).[11] 

“Sonder die ondersteuning van die Noordwes-Universiteit en borge soos Trophy Robotics CC sou ons nooit hierdie opwindende WTIW-inisiatief kon aanbied nie, en sou ons nie 'n platform kon skep waar jong, nuuskierige verstande hulle aan die praktiese toepassing van wiskunde en wetenskap kon verwonder nie,” sê Pretorius.

Die Robotika-kampioenskap sal om 08:00 afskop en sal in Gebou 3 op die Vanderbijlparkkampus plaasvind.

Die NWU Vaalkampus spog met 'n aktiewe Robotika-klub

Submitted on Tue, 03/14/2017 - 12:24