Projekte oor reaksie op siektes wil Suid-Afrika selfonderhoudend maak

In ’n tyd van Covid-19-tamheid word landsburgers nou met ’n selfs dodeliker en hoogs oordraagbare Delta-variant gekonfronteer. Hierdie nuwe virusmutasie het ’n impak op die reeds oorlaaide gesondheidstelsel met te min hulpbronne. Wat nog meer kommerwekkend is, is dat op dag 460 van die staat van inperking in Suid-Afrika minder as 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking ten volle geïmmuniseer was.

Ook is minder as 0,9% van die mense op die Afrika-vasteland teen Junie 2021 geïmmuniseer, vergeleke met 28,2% van die bevolking in Kanada en amper 50% van dié in die Verenigde State. Vir transdissiplinêre gesondheidsnavorsers is die verskil tussen die Globale Noorde en die Globale Suide tydens die Covid-19-pandemie niks nuuts nie. Dit is deel van wat as die “10/90-gaping” bekend staan. Hierdie gaping beskryf die wanverhouding wanneer minder as 10% van wêreldwye navorsingsbefondsing op siektes gespandeer word wat meer as 90% van die wêreld se bevolking raak.  

Die Sisulu Foundation for African and Pandemic Disease Response skenk ook met hulle werk aandag aan die 10/90-gaping. Dit sluit die positiewe eerste resultate in van prekliniese proewe op ’n Covid-19-kandidaatentstof wat ontwikkel is deur prof Markus Depfenhart, ’n buitengewone professor van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat in Duitsland gebaseer is, en ’n ongeëwenaarde samewerking tussen verskillende Afrika- en Europese universiteite en regerings om sterk samewerkende opleiding, navorsing en die volle entstofontwikkelingswaardeketting te vestig.

Die belowende prekliniese proewe is die resultaat van maande lange gesamentlike pogings tussen die Walter Sisulu Universiteit (WSU) en die NWU, wat op bekwame wyse deur Hannes Malan van die NWU se kantoor vir Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuning (TTIS) ondersteun is.

Die stigting se visie pas goed in by dié van die Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR) aan die NWU. AUTHeR is die gasheereenheid van prof Depfenhart en beklemtoon die behoefte dat Afrika-nasies in ’n pandemie-omgewing selfvoorsienend moet wees.

Stel die wanbalans in die reaksie op die siekte reg

Die wanbalans tussen gesondheidsbeleide in ontwikkelde lande en dié in Afrika is ook niks nuuts vir navorsers van AUTHeR nie. Die navorsingsentiteit het ’n toegewyde groep transdissiplinêre navorsers wat aktief die 10/90-gaping konfronteer deur gemeenskapsforums te betrek en te aktiveer om beheer oor hulle eie gesondheid te neem.

In een so ’n voorbeeld is die PURE-studie (Prospective Urban and Rural Epidemiology-studie), wat op die voorkoms van risikofaktore fokus en hoe dit tot die ontwikkeling van chroniese siektes lei, vir die afgelope 16 jaar in Noordwes onder die nasionale leierskap van prof Lanthé Kruger aan die gang.  Hierdie studie, wat in Kanada ontwerp is, samel data in van mense wat in landelike en stedelike gemeenskappe woon.

AUTHeR het ’n groot gemeenskapsbetrokkenheid met die data-insameling deurdat die beperkings van die tradisionele metodologie vir navorsingsprogramme in ag geneem word en die beskouinge en insette uit die gemeenskappe deur gemeenskapsforumdeelname direk geïnkorporeer word. Hierdie benadering het gemeenskapslede in staat gestel om deel te neem en help navorsers aktief om data in te samel en intydse resultate te rapporteer aan forums wat gesondheidsbevordering en gedragsverandering aanmoedig en ondersteun.

In reaksie op die 10/90-gaping moes transdissiplinêre navorsers tradisionele navorsing transformeer om wederkerige gemeenskapsgeïntegreerde projekte moontlik te maak.  Toe die nasionale inperking AUTHeR se navorsingsaktiwiteite in gemeenskappe beperk het, kon dr Christi Niesing persoonlike kontak met gemeenskapsforums in virtuele kontak deur WhatsApp-groepe en Facebook omskep. Ten spyte van die min hulpbronne in hierdie gemeenskappe, het hulle langtermynvertrouensverhouding met AUTHeR se navorsers ’n digitale transformasie moontlik gemaak.

Navorsingsinisiatiewe van AUTHeR word vanuit ’n unieke gesondheidsbevorderings- en navorsingsplatform uitgevoer met bestaande toegangspunte in die gemeenskap, en verhoudings is gebou en ’n intydse databasis is gevestig. Voorbeelde is die North West on Wellness-platform (NoW!-platform) waar kundiges ten opsigte van welstand die tussengangers tussen gemeenskappe en verskaffers van gesondheidsorg is.  

“’n Mens moet die plaaslike gesondheidskonteks verstaan,” sê prof Kruger. Haar kollega, dr Niesing, voeg by, “Ons moet vandag, meer as ooit tevore, praktiese oplossings vir die sistemiese en erge probleme in Afrika vind”. 

Benewens dat die PURE-SA-studie byvoorbeeld navorsingsdata aan die wêreldwye wetenskaparena verskaf, belê hulle ook in oordrag van vaardighede aan gewone mense en veldwerkers, wat gemeenskappe bemagtig en aan hulle hul eie stem gee om aan dinge deel te neem wat hulle gesondheid raak. Die Sisulu Foundation for African and Pandemic Disease Response ondersteun op hierdie manier samewerkende, inheemse deelname deur Afrikalande om onsself teen die huidige krisis en toekomstige wêreldwye pandemies te beskerm.

Ganyesa Jan Kempdorp

AUTHeR skakel gereeld met gemeenskappe waar hulle navorsing doen. Twee van hierdie geleenthede het plaasgevind toe forumvergaderings verlede jaar in Ganyesa asook in Jan Kempdorp gehou is.

Aerobics marathon
AUTHeR se Aerobics Marathon Move vir Gesondheidsdag het op 20 Mei plaasgevind.

Submitted on Tue, 08/10/2021 - 10:07