Prof Linda du Plessis vier ’n dekade by die NWU

Prof Linda du Plessis skrik nie sommer vir uitdagings nie, soos dit reeds sedert die begin van haar loopbaan by die Noordwes-Universiteit (NWU) in September 2007 duidelik was. Sy het destyds geskiedenis gemaak deur die heel eerste vroulike viserektor op die universiteit se kampus in Vanderbijlpark te wees.

Tydens die amptelike opening van die akademiese jaar op 6 Februarie 2018 het prof Linda, die adjunk-visekanselier vir beplanning en Vanderbijlpark-kampusbedrywighede, ’n langdienstoekenning vir 10 jaar ononderbroke diens aan die NWU ontvang.

Van stelselontleder tot adjunk-visekanselier

Prof Du Plessis is reeds 25 jaar lank in hoër onderwys nadat sy die IT-bedryf verlaat het waar sy as stelselontleder gewerk het. Haar vorige posisies sluit dié van waarnemende rektor, viserektor, senior direkteur vir inligtingsbestuur, direkteur vir onderrigontwikkeling, en dié van ’n dosent in.

Sy het ’n BSc, BScHons en meestersgraad in inligtingstelsels, en het haar doktorale studies in 2002 voltooi.

Sy beskryf haarself as iemand wat passievol oor hoër onderwys is, en sy is trots daarop om ’n lewenslange leerder te wees. Om dit te onderskryf, is sy tans vir ’n twee doktorsgraad in hoëronderwysbestuur aan die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk ingeskryf.

Prof Du Plessis spog met verskeie leierskap- en navorsingstoekennings en bydraes in nasionale en internasionale publikasies. Sy is ook bekend vir haar passie, toewyding en fokus wanneer sy oor hoëvlak- strategiese prosesse moet toesig hou.

Vroeë loopbaanhoogtepunte

Sy het haar skoolloopbaan in Rustenburg voltooi en haar loopbaan as rekenaarprogrammeerder en stelselontleder by die destydse Yskor-groep (nou bekend as ArcelorMittal) begin, waarna sy by die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) aangesluit het. Sy het verskeie poste by VUT beklee, insluitende dié van lektor, senior lektor en navorsingslektor, en het ook ’n aktiewe rol op die gebied van onderrigontwikkeling en institusionele bestuur gespeel. 

 

Prof Linda du Plessis

 

 

 

 

 

Submitted on Mon, 02/26/2018 - 11:27