POCA is nie genoeg om bendegeweld hok te slaan nie

Daar moet meer gedoen word om die invloed van bendeaktiwiteite teen te werk, aangesien wetgewing teen bendes nie die mas opkom nie.

Volgens dr Delano van der Linde van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Regte, is wetgewing soos die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (POCA) nie in staat om die manier waarop bendes optree, aan bande te lê, óf om tussen bendeverwante en gemeneregmisdaad te onderskei nie.

Dr Van der Linde sê die POCA is uitgevaardig om georganiseerde misdaad, kriminele bendeaktiwiteite en geldwassery te beveg, maar hierdie taak word nie baie suksesvol uitgevoer nie. Dit is as gevolg van ’n aantal tekstuele, institusionele en konstitusionele tekortkominge.

Hierdie tekortkominge moet hanteer word, aangesien kriminele bendeaktiwiteite ’n beduidende bedreiging vir die lewens van veral die gemeenskap op die Kaapse Vlakte in die Wes-Kaap inhou.

“Die POCA is uitgevaardig om die drie soorte misdaad, naamlik geldwassery, uitbuiting en kriminele bendeaktiwiteit – ook bekend as georganiseerde misdaad – beter te hanteer,” sê dr Van der Linde.

“Ten spyte van noemenswaardige vooruitgang in die stryd teen geldwassery en uitbuiting, kan dieselfde nie vir kriminele bendeaktiwiteite gesê word nie.

 Trouens, die voorkoms van bendeverwante misdaad het sedert die promulgasie van die Wet toegeneem.”

In die 2017/2018- finansiële jaar was een uit elke vyf moorde (21,6%) in die Wes-Kaap bendeverwant. In 2017 is berig dat slegs 3% van die 1 886 moorde oor die afgelope vyf jaar suksesvol vervolg is.  

Bykomende wetgewing of wysigings van die POCA is dus nodig.

Dr Van der Linde het bevind dat die POCA baie dieselfde is as gemenereg, en dus nie daarin slaag om die unieke uitdagings te hanteer wat met georganiseerde misdaad verband hou nie.

Hy voel ook dat die straf vir bendelede swaarder behoort te wees.  “Drie tot agt jaar of ’n boete is nie ’n groot genoeg afskrikmiddel nie, en hoewel vonnisse as gevolg van verswarende omstandighede langer kan wees, moet meer gedoen word.”  

Hy verduidelik die POCA is te breed as gevolg van potensiële vertolkings van wat ’n “kriminele” bende en “kriminele bendeaktiwiteit” is, en ’n hof hoef nie hierdie oop definisies te volg nie.

 “Misdaad en misdaadvoorkoming is ʼn nasionale prioriteit en baie verkiesingsveldtogte het hierdie jaar daarop gefokus. Ek hoop dat die Wes-Kaapse bendes ʼn nasionale prioriteit in 2019 sal word. 

 Dr Delano van der Linde.

Submitted on Wed, 05/29/2019 - 09:28