PMR-toekennings: ses in ’n ry vir NWU-Vanderbijlpark

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs nóg ’n Professional Management Review (PMR) Diamond Arrow-toekenning gewen. Dit is hierdie jaar die sesde agtereenvolgende toekenning wat die kampus ontvang.

Die toekenning is by die PMR-sakeontbyt oorhandig en belangrike besluitnemers, sakelui, lede van die regering, professionele lui en opvoeders van die Sedibeng-streek het vir die erkennings byeengekom. Die hoofspreker was prof Linda du Plessis, waarnemende kampusrektor. Prof Du Plessis het ’n paar insigte gedeel oor die lesse wat die kampus uit die #FeesMustFall-veldtog geleer het.

Ten spyte van al hierdie uitdagings het die universiteit steeds daarin geslaag om die eindeksamen van 2016 suksesvol te voltooi, ’n gemiddelde slaagsyfer van 84% te handhaaf, en 15 597 gegradueerdes te lewer. “Die #FeesmustFall-veldtog het ons geleer dat ons die wêreld kan verander as ons ons onmiddellike omgewing verander,” sê prof Du Plessis, en het die gehoor uitgedaag om mekaar se hande te vat en ’n positiewe impak in hulle onmiddellike omgewing, en uiteindelik in die wêreld, te maak.

Die kampus word gereeld in die PMR-opname gemeld en het al verskeie keer toekennings huis toe gebring. Die Sedibeng-streek sluit die munisipaliteite van Emfuleni, Lesedi en Midvaal in. Die streek is as groeipunt en potensiële beleggingsarea vir internasionale en plaaslike ontwikkelaars en beleggers geïdentifiseer.

Meer oor PMR

PMR verskaf graderings, sterk punte en swakhede, terwyl hulle maatstawwe vir sakeondernemings, die regering, professionele lui, opvoeders en die arbeidsektor produseer. Hierdie unieke strategiese intelligensie, wat van groot waarde is vir ontleders, beleggers, finansiers en voornemende kliënte, word aan topgegradeerde maatskappye in verskillende streke in Suid-Afrika aangebied. Arrow-toekennings word in die volgende kategorieë gemaak: diamant (wat die hoogste gradering verteenwoordig), goud, silwer en brons.

Die NWU Vaal het in die kategorie vir hoëronderwysinstellings ’n Arrow-diamant-toekenning ontvang.

Die doel van die jaarlikse PMR-opname is om maatstawwe vir die vlakke van bestuurskundigheid te verskaf, die implementering van verantwoordelike korporatiewe beheer te bevorder, en vlakke van innovering te verhoog. Meer as 2 000 nominasies is ontvang en maatskappye en instellings is teen die volgende kriteria gemeet: bevordering van ekonomiese groei, vlakke van bestuurskundigheid, implementering van korporatiewe beheer, handelsmerkbewustheid, en die vlakke van waargenome innovering.

Prof Linda du Plessis, waarnemende rektor van die NWU se kampus in Vanderbijlpark, was die hoofspreker tydens die onlangse PMR-toekennings.

Submitted on Wed, 07/19/2017 - 11:47