PhD-gegradueerde ondersoek hoe Nigeriese tersiêre leerders Engels onder die knie kry

’n Trotse Remilkun Iyabo Adeyemi het onlangs haar PhD in Engels tydens die onlangse herfsgradeplegtigheid op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark ontvang.

Die Nigeries-gebore Adeyemi wat onder die wakende oog van haar studieleier, prof Bertus van Rooy gestudeer het, het haar graad met die tesis genaamd A corpus-based analysis of cohesion in written English essays of Nigerian tertiary learners, verwerf.

Haar navorsing het die omvang en wyse waarop Nigeriese leerders van Engels op tersiêre vlak daarin slaag om samehang in hulle skryfwerk te kry, ondersoek. Om dit te doen het sy ’n korpus van 467 opstelle versamel wat deur studente by drie verskillende Nigeriese universiteite geskryf is. Sy het daarna al die dimensies ondersoek wat potensieel bydra om samehang vanuit die perspektief van korpuslinguistiek te verkry.

Haar belangrikste bevindinge was dat Nigeriese leerders bykomende en oorsaaklike voegwoorde asook leksikale herhaling oorgebruik, maar adversatiewe voegwoorde ondergebruik. Gevolglik het die Nigeriese leerders die hulpbronne wat vir samehangende skryfwerk vereis word op ’n soortgelyke wyse as die moedertaalspreker-kontrolekorpus bemeester. Die studie het waardevolle pedagogiese implikasies beklemtoon wat tot Nigeriese studente se onderrig in akademiese skryfwerk sal bydra.

Tydens die proses is die relatiewe gebrek aan die voldoende hantering van hulpbronne in handboeke en kursusmateriaal wat tans by Nigeriese universiteite in gebruik is, blootgelê. Eksaminators het saamgestem dat hierdie bevindings van ’n korpusstudie ’n goeie toevoeging tot die huidige vakkundigheid in dié veld is, terwyl die korpus self eweneens ’n ongeëwenaarde, leerderkorpus van Nigeriese Engels is wat tot die publiek se beskikking is en as basis vir toekomstige navorsing gebruik kan word.

Remilkun Iyabo Adeyemi is op 22 Maart 1980 in Offa, Nigerië gebore. Sy het die Wes-Afrikaanse Eksamenraad se Senior Skoolsertifikaat (gelykstaande aan ʼn Suid-Afrikaanse matriek) in 1996 voltooi. Sy het in 1999 ’n driejaar-onderwysersopleidingsprogram by die Kwara State College of Education, Ilorin, Nigerië voltooi, met Engels, geskiedenis, onderwys en onderrigpraktyk as hoofvakke. Sy het in 2002 by die Universiteit van Ilorin ingeskryf, waar sy die Baccalaureus Artium (Opvoedkunde) in Engels (2005) en later ’n Magister Artium in Engels taal (2011) by die Universiteit van Nigerië verwerf het.

 

Remilkun Iyabo Adeyemi

Submitted on Wed, 06/14/2017 - 15:35