Openbare lesing rig ʼn versoek vir Afrikanisering eerder as dekolonisasie

“Universiteite is omskep in “kinders van die dekolonisasiestryd”. So het prof Sabelo Ndlovu-Gatsheni geargumenteer tydens ‘n onlangse openbare lesing op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark.


Hierdie lesing was deel van ʼn reeks gesprekke in die soeke na die dekolonisering van die kurrikulum.

Prof Ndlovu-Gatsheni het bevraagteken of dekolonisering die korrekte voertuig is om Suid-Afrika vorentoe te neem, veral te midde van ʼn daaglikse bestaan waarin rassisme, seksisme en xenofobie hoogty vier.

“Akademiese vryheid behels die verdieping van die reg tot akademiese werksaamhede, eerder as die vervanging van akademiese regte,” het hy gesê. “Die kennis wat universiteite vir die afgelope 100 jaar bedien het, word as uitgeput beskou.”

Prof Ndlovu-Gatsheni het voorgestel dat die metodologie van inhoudskepping ʼn nuwe aanslag tot dekolonisering verg, en dat dit beter onder die konsep van Afrikanisering as denkrigting en visie gedien kan word.

“Dekolonisering, of eerder Afrikanisering, beteken onder andere om doelbewus eers plaaslike en kontinentale kwessies af te handel, voordat kennis of inhoud op transnasionale en globale vlak uitgebrei word,” het hy gesê.

Te midde van hierdie uitdaging hou prof Ndlovu-Gatsheni by sy voorstel dat kurrikulum- en operasionele refleksie as patrone van transformasie by Suid-Afrikaanse universiteite ʼn horisontale internasionalisering sal verg.

Prof Ndlovu-Gatsheni se kernidees argumenteer vir die transformasie van universiteite om plekke te word “waar kennispoele gekoester en idees wat uit hierdie kennis ontspring, geskep word”.

“Moderne idees van Afrikanisering het spontaan  in Suid-Afrika ontwikkel omdat die land en sy burgers beskou word as polities vry en wegbeweeg van ideologies-gestremde denke. Die reg om op ʼn inklusiewe, diverse en gebalanseerde wyse onderrig te word – waar ʼn kontinentaal spesifieke oogpunt nie domineer nie – vorm deel van die reis na opvoedkundige vryheid.“

Van regs is prof Elize van Eeden van die Fakulteit Geesteswetenskappe, prof Sabelo Ndlovu-Gatsheni en prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir beplanning en kampusbedrywighede in Vanderbijlpark.

Submitted on Mon, 06/10/2019 - 09:52