Ondernemende Vroue-program 2020: ʼn Uitnodiging aan alle Vaaldriehoek-fempreneurs

>

Indien Suid-Afrika die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se teiken wil bereik om teen 2030 11 miljoen poste te skep, moet entrepreneurskap – veral onder vroue – aangemoedig word.

Ten opsigte hiervan neem die Noordwes-Universiteit (NWU) leiding om entrepreneurskap deur middel van sy jaarlikse Ondernemende Vroue-program (EWP) te bevorder.

Dit is hierdie jaar die agtste keer dat hierdie program met sy groot impak deur die NWU se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (bhive EDC) aangebied word, en in 2020 gaan die program weer eens vroue van regoor die universiteit se geografiese voetspoor bemagtig.

Die eerste inname vir die jaar gaan op fempreneurs in die Vanderbijlpark- en Sasolburg-streek fokus.

Gee gehoor aan die roepstem van entrepreneurskap

As jy wil deelneem aan die hierdie jaar se kortleerprogram vir nuwe besighede wat op vroue-entrepreneurs gemik is en wat van Maart tot Augustus loop, sluit op 19 Februarie by die bhive EDC op die kampus in Vanderbijlpark by ons aan vir ’n opwindende beplanningskamp.

Jy sal tydens hierdie sessie ingelig word oor wat die program behels, waarna jy ’n beplanningskamp vir die bevordering van idees sal bywoon, gevolg deur die keuring vir die program se deelnemers.  Die eerste programsessie neem vroeg in Maart ’n aanvang.

’n Bewese prestasierekord

Beginner- vroulike entrepreneurs word deur hierdie program bemagtig om nie slegs hulle besigheidsdrome waar te maak nie, maar ook om aktief tot die plaaslike en nasionale ekonomie by te dra.

Sedert die ontstaan van die program is vroulike entrepreneurs in staat gestel om baanbrekers op talle gebiede te wees, soos in app-ontwikkeling, spyseniering, eiendomsontwikkeling, mode-en binnenshuise ontwerp, asook instandhoudingsbestuur.

Ander het unieke produkte en dienste ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende nismarkte voorsiening te maak. Voorbeelde sluit in die verwerking van plastieksakke om ontwerpermatte vir die toerismebedryf te maak, ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, die vervaardiging van stene uit herwonne plastiekbottels, en selfs ’n taksidermiediens wat nommerpas vir die wild- en jagbedryf is.

Verskeie van die deelnemers aan hierdie program verskaf nou werk aan ander vroue in hulle onderskeie gemeenskappe en neem selfs jongmense as interns in diens, en maak hulle touwys en leer hulle die krag van entrepreneurskap.

Volgens Leonie Greyling, die EWP-koördineerder, lê die sukses van die jaarlikse program daarin dat dit intydse sake-ondersteuningsdienste aan vroue verskaf. Deelnemers word deur ’n omvattende kurrikulum geneem om hulle te help om besigheidsidees en markte te identifiseer, ’n goeie besigheidsmodel te ontwikkel, en uiteindelik hulle eie beginneronderneming suksesvol te inisieer. Tydens die proses word vroue nie net deel van ’n dinamiese portuurnetwerk nie, maar ontvang ook mentorskap van ervare entrepreneurs en kundige lede van die akademie.

Die Sasolburg-weergawe van die program word met trots deur Sasol geborg, terwyl MooiVaal Media die Ondernemende Vroue-program se mediavennoot is.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan incubation@nwu.ac.za of kontak die bhive EDC by 016 910 3393.

*Die bhive EDC verteenwoordig ’n dinamiese spil van entrepreneursaktiwiteit binne die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Submitted on Tue, 01/28/2020 - 10:26