NWU Vanderbijlpark verwelkom nuwe Studente-kampusraad

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark spog met ’n nuutverkose groep studenteleiers.

Tydens ’n onlangse gelukwensingseremonie het lede van die kampus se bestuurskomitee van die geleentheid gebruik gemaak om die nuwe verteenwoordigers van die Studente-kampusraad (SKR) te ontmoet en hulle voorspoed met hulle leierskapsreis toe te wens.

In haar toespraak het prof Linda du Plessis, adjunkvisekanselier vir beplanning en kampusbedrywighede in Vanderbijlpark, die studente geloof vir hulle passie en vasberadenheid om ’n impak in die studente-omgewing te maak.

Sy het hulle ook aangemoedig om die nuwe groep leiers te wees wat die kampusgemeenskap se hande vat om die NWU se droom te verwesenlik om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek.

Sy het gesê dat die inhuldiging van nuwe studenteleiers steeds ’n hoogtepunt op die kampus se gebeurteniskalender is.

“Elke groep studenteleiers verteenwoordig ’n nuwe hoofstuk in die storie van die NWU en sy drie kampusse, en ons verwelkom dus met hoë verwagtings ons studenteleiers in hulle nuwe ampte,” het prof Du Plessis gesê, en bygevoeg dat studenteleierskap met verantwoordelikheid en aanspreeklikheid gepaard gaan.

“Die aanvaarding van enige leierskapsposisie is ’n voorloper vir studente om hulle portefeuljes uit te bou en vermoëns te versterk om selfs groter verantwoordelikhede in die toekoms te aanvaar. Dit is nou julle geleentheid om ’n leierskapsrepertoire op te bou en noodsaaklike leierskapsvaardighede aan te leer en te herleer.”

Die SKR bestaan uit 15 portefeuljes en die leier van die NWU Vanderbijlpark-span is Teboho Siziba. Die volgende ampsdraers sal in die leierskapstruktuur dien:

Voorsitter: Teboho Siziba
Ondervoorsitter: Mpho Tlhalefo
Sekretaris-generaal: Khotsofala Ramasilo
Tesourier: Marley Phaswana
Beampte vir die raad van verenigings: Sheriff Rampele
Beampte vir gemeenskaps- en belanghebberbetrokkenheid: Anelisa Tole
Regsbeampte: Ntandokazi Gumede
Beampte vir kuns en kultuur: Tebogo Morake
Beampte vir fondsinsameling: Mitchelle Nhacuongue
Beampte vir die akademie: Siyabonga Hlophe
Beampte vir internasionale studente: Tinashe Nzombe
Beampte vir bemarking en openbare betrekkinge: Lutendo Mathivha
Beampte vir koshuise: Phumulani Pandora Ndlovu
Beampte vir sport: Tshepang Shirley Mosokwene
Beampte vir aktuele sake: Siyabonga Tshabalala

 
Voorsitter van die SKR vir NWU Vanderbijlpark, Teboho Siziba.

Submitted on Thu, 09/05/2019 - 12:37