NWU Vanderbijlpark: Op julle merke. Gereed. Registreer!

Almal is aan die gang terwyl die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark gereedmaak om die registrasie en oriënteringsprogram (R&O-program) vir 2018 te implementeer. Die program begin op Maandag 22 Januarie, wanneer die registrasieproses afskop.

Registrasie

Hierdie jaar se inname van eerstejaarstudente vind van 22 tot 24 Januarie plaas. Om die volle program te sien, klik hier.

Oriënteringsprogram  

In die verlede was die doel van die oriënteringsprogram om dit vir eerstejaarstudente maklik te maak om by die universiteitslewe in te skakel.

Volgens prof Lumkile Lalendle, uitvoerende direkteur vir studentelewe, gee die program aan studente die geleentheid om nuwe strategieë te leer en te bemeester om by die universiteitslewe aan te pas. Tydens die verloop van die program sal alle eerstejaarstudente verskeie inligtingsessies en praktiese werkswinkels bywoon wat die NWU se beleid uitstip oor aktuele kwessies soos die verantwoordelike gebruik van sosiale media, menseregte, geen verdraagsaamheid teenoorontgroeningspraktyke en antisosiale gedrag, soos seksuele teistering en xenofobie, nie.  

Nog ’n belangrike fokus van die program is om studente aan hulle nuwe onderrig-en-leer-omgewing bekend te stel, en in hierdie verband sal studente meer oor akademiese steundienste, soos die Leer- en Navorsingsmeent, die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL), asook Inligtingstegnologiebestuur (IT-bestuur) leer.

Derdens sal die program op die algemene sosiale en emosionele welstand van die nuwe groep eerstejaarstudente fokus. Interaktiewe besprekingsessies oor veiligheid, die studente se regsdienste en die gesondheidsorgsentrum sal in hierdie verband stof tot nadenke verskaf, terwyl vergaderings met die studentekampuskomitee en die verskillende studenteleierskapstrukture sal verseker dat alle studente deeglik bewus is van wat by die universiteit en op die kampus aangaan.

Die eerstejaars sal op Saterdag 27 Januarie ’n groot gemeenskapsbetrokkenheidsveldtog onderneem, gevolg deur ’n pretdag by die Emerald Resort en Casino. Die program maak op Saterdag 3 Februarie klaar, wanneer die kampus sy amptelike verwelkomingseremonie vir eerstejaarstudente en hulle ouers aanbied.

 

 

Submitted on Thu, 02/01/2018 - 12:46