NWU-studente baat by deelname aan gemeenskapsdiens

Studente baat persoonlik sowel as professioneel as hulle aan liefdadigheidswerk in die gemeenskap deelneem. Sulke aksies dra trouens nie net tot goeie burgerskap by nie, maar ook tot beter probleemoplossingsvaardighede en ’n verbeterde vermoë om in ’n spanstruktuur saam te werk.


Só sê mnr Jacob Simango, direkteur van studentelewe op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark. As deel van die jaarlikse registrasie- en oriënteringsprogram – of die R&O soos dit bekend staan – het meer as 700 nuwe eerstejaarstudente die strate van Vanderbijlpark en omliggende areas ingevaar om hulle ondersteuning aan en bydrae tot verskeie liefdadigheidsorganisasies te beloof.

Studente uit alle vlakke van die samelewing het met vreugde take verrig soos vloere vee, mure verf, etes voorberei, kleintjies vermaak, en senior burgers by verskeie ouetehuise besoek. Volgens Jacob is die jaarlikse gemeenskapsuitreikprogram ’n hoogtepunt op die R&O-kalender, aangesien dit nie net vir die studente die eerste naweek is wat hulle by hulle nuwe akademiese tuiste is nie, maar ook aan studente die geleentheid verskaf om aktiewe lede van hulle nuwe gemeenskap te word.

“Die wete dat jy deur eenvoudige dade ’n impak op iemand anders se lewe kan maak, maak gemeenskapsdiens nie net ’n lonende ervaring nie, maar laat ’n mens ook baie trots voel,” sê Jacob.

Die volgende organisasies baat by die uitreikinisiatief: die Bophelong-kinderhuis, die Ikemeleng-ouetehuis, die Kanana-geestesgesondheidsorgsentrum, die Lapeng-ouetehuis, die Kgatliso-kinderhuis, die Matwala-kinderhuis, die Busy Bee-hospies, Vaal Echoes of Love en die Ikageng-ouetehuis.

Submitted on Wed, 02/14/2018 - 10:29