NWU se vennootkonsortium stel ’n ventilatorontwerpkompetisie vir studente bekend

Vir talle Covid-19-pasiënte wat asemhalingsprobleme ervaar, is die verskil tussen lewe en dood toegang tot ventilators wat werk. Tydens die Covid-19-pandemie het nuusberigte dikwels die tekort aan hierdie lewensnoodsaaklike toerusting en hulle verwante dienste beklemtoon – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Dit is steeds ’n kwessie wat groot bekommernis veroorsaak.

Dit is waarom ’n nuwe kompetisie deur die Mahlale Innovation Consortium (MIC), waarvan die Noordwes-Universiteit (NWU) deel is, alternatiewe metodes vir noodventilators probeer kry.  Dit is veral om te soek na toerusting wat in noodgevalle gebruik kan word vir die gedesentraliseerde behandeling van Covid-19-pasiënte wat nie intensiewe sorg nodig het nie sodat hospitalisasie verminder kan word.

Die MIC het ’n kompetisie geloods wat aan studente die geleentheid gee om ventilatoroplossings en verwante dienste en besigheidsidees te ontwerp wat ’n betekenisvolle bydrae tot die stryd teen die pandemie kan maak. Die doel is om die kurwe van gesondheidsverwante pandemies soos Covid-19 af te plat.

Kompetisie neem studente se innoverings na ’n hoër vlak

“Die uitdaging stel deelnemers in staat om ervaring in die werklike bedryf, praktiese vaardighede ten opsigte van indiensneembaarheid asook gevorderde besigheids- en mensvaardighede – alles binne ’n vaste tydsraamwerk – op te doen. Die beste idees lyk aanvanklik onmoontlik, maar in hierdie nuwe era kan dit die wêreld verander,” sê een van die kompetisie se beoordelaars, prof Leenta Grobler, visevoorsitter van die projekspan en woordvoerder vir die kompetisie. Prof Leenta is die waarnemende direkteur vir besigheidsontwikkeling en belanghebberbetrokkenheid by die NWU se Fakulteit Ingenieurswese.  

“Die kompetisie sal die nuwe generasie aanmoedig om opnuut aan ’n positiewe toekoms te dink en meer ventilators te maak. Natuurlik is die moontlikheid om ’n nuwe toekoms soos hierdie te voorsien nie dieselfde as om te weet hoe om dit ’n werklikheid te maak nie, maar deur vir die kompetisie in te skryf, kan hulle help om hulle idees in die praktyk te benut.”

Geregistreerde Suid-Afrikaanse studente en leerders kan hulle kreatiewe en innoverende idees, konsepte en selfgeïmproviseerde oplossings in drie kategorieë inskryf.

Die eerste kategorie is ’n oop kategorie vir enige diens of produk wat hulle geïmplementeer het om die kurwe tydens Covid-19 af te plat. Die tweede is ’n innoveringskategorie vir enige nuwe besigheidsidee, uitvinding of innovasie wat gebruik kan word om Covid-19 of ander gesondheidsverwante bedreigings in die toekoms hok te slaan, en die derde kategorie is ’n ingenieurskategorie vir enige verbeterings, innoverings of konsepte wat die tekort aan ventilators in Suid-Afrika sal verminder.

Inskrywings is nou oop en kan tot 08:00 op Maandag 14 Junie ingedien word. Daarna sal die topnege inskrywings gekies word. Die virtuele prysoorhandiging, waartydens kontantpryse toegeken sal word, sal op 30 Junie plaasvind.

Vir meer inligting oor die kompetisie of om in te skryf, besoek die MIC-webwerf by: http://mahlaleinnovationconsortium.co.za/.

Meer oor die MIC

Die MIC is ’n alliansie van vyf hoëronderwysinstellings – die NWU, die Sentrale Universiteit van Tegnologie Vrystaat, Tshwane Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Johannesburg en die Vaal Universiteit van Tegnologie – in reaksie op ’n versoek van die SETA vir vervaardiging, ingenieurswese en verwante dienste (merSETA).

MIC bevorder die plaaslike vervaardiging van ventilators om ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse regering se nasionale ventilatorprojek te lewer.

NWU-ingenieurs pak die uitdaging aan

As deel van die konsortium maak die NWU betekenisvolle bydraes met ’n spesifieke fokus op digitale gesondheidsdienste en afstandsmonitering.

“Wanneer koerante regoor die wêreld ons oorspoel het met nuus van ’n kritieke tekort aan ventilators, het die merSETA na akademiese instellings uitgereik om hierdie tekort te probeer hanteer, maar ook om dit as ’n geleentheid te gebruik om die vaardigheidsgaping in die sektor vir mediese toestelle in Suid-Afrika te hanteer,” sê prof Leenta.

Sy sê dat toe die NWU se ingenieurs tyd by gesondheidsorgwerkers in die plaaslike gemeenskappe deurgebring het, hulle besef het dat daar ’n ander krisis agter die ventilatorkrisis skuil.  

“Die grootste beperking was nie die ventilators nie, maar eerder die getal opgeleide personeellede vir intensiewesorgeenhede (ICU’s) wat die ventilators moes moniteer. Hulle het kritieke vaardighede wat nie in ’n kort tydjie aan ander oorgedra kan word nie, en maak hulle die mees kritieke hulpbron om te beskerm en te bemagtig.”

Prof Leenta sê dat die NWU se bydrae tot die Virovent-vaardigheidsuitdaging ’n universele, nie-indringende toestandmoniteringstelsel oor ’n afstand is. Dit is ’n laekoste, hoë-impak digitale stelsel wat pasiëntesorg oor ’n afstand moontlik maak, en ondersteuning aan pasiënte op ventilators in hospitale en tuis verskaf.

Sy sê dat dit ’n aanlyn data-ontvangstoestel is tussen die ventilator en die pasiënt, met ’n webgebaseerde instrumentpaneel vir afstandsmonitering wat – benewens gedetailleerde pasiënt-spesifieke inligting – ook ’n digitale oplossing verskaf om die sensoriese oorlading van die intensiewesorgpersoneel te verminder.

“Op hierdie manier maak ons gepatenteerde oplossing ’n beter uitkoms vir almal moontlik: minder verpleegkundiges sal groter getalle pasiënte veilig kan moniteer, terwyl ons ook hierdie kritieke hulpbron – ons intensiewesorgpersoneel – tydens toekomstige pandemies sal beskerm.”

Submitted on Thu, 05/20/2021 - 09:39