NWU se Tinotenda: meester van die basketbalbaan

Tinotenda Chirara het op die vroeë ouderdom van 10 jaar verlief geraak … op basketbal. Vandat hy destyds in 2006 aan die sport bekendgestel is, het hy die basketbalbaan oorheers, en sy doelwitte een doel op ’n keer bereik.

Hierdie 24-jarige tweedejaar-BA-student op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark is ’n moderne Renaissance Man. Hy is nie net ’n puntemasjien nie, maar hy is ook ’n natuurlike leier en hardwerkende student.

“Basketbal alleen sal jou nie ver bring nie. Fokus meer op jou akademie. As jy die twee kan balanseer, sal dinge nooit verkeerd loop nie,” is sy raad aan voornemende spelers en studente. Aangesien hy vir die Zimbabwiese nasionale onder 20-span en vir die Mpumalanga Rhinos in die SA professionele liga gespeel het, sou dit dom wees om nie sy woorde ter harte te neem nie.

Hy is tans die kaptein van die NWU Vaal se senior basketbalspan en ’n uithaler-doelskieter wat die uitkoms van enige wedstryd kan verander.

Dit was veral waar toe hy onlangs die beste punte van sy loopbaan aangeteken het in die Varsitybekerwedstryd teen UKZN in Johannesburg toe hy 40 doele geskiet het om ’n epiese terugkeer vir die span te verseker en hulle die wedstryd met ’n enkele punt gewen het.

“Dit is een van die beste wedstryde wat ek nog ooit gespeel het. Spanprestasies is vir my baie belangriker as persoonlike prestasies. Ek was baie bly dat ek die 40 punte aangeteken het, maar ek was blyer dat ons die wedstryd gewen het, veral as ’n mens daaraan dink dat ons nie die gunstelinge was nie,” sê Tinotenda.

Hy is ’n natuurlike leier wat op en van die baan af deur sy voorbeeld lei. Sy werksetiek en toewyding onderskei hom van sy eweknieë.

“Ek dink ek is ’n goeie doelskieter, maar dit het nie vanself gekom nie. Dit het ure en ure se oefening geverg om op die vlak te kom waar ek nou is. Ek is ’n goeie speler omdat ek op ’n baie jong ouderdom geleer het dat die basiese en fundamentele dinge belangrik is, en ek beskou myself steeds as ’n student van die spel,” erken hy.

Selfs al kan hy nie tydens die nasionale staat van inperking gim toe gaan nie, bly hy fiks. “Ek doen 500 opsitte, 500 opstote en 500 hurksitte en spring elke dag tou om fiks te bly.”

Dit is maklik om te verstaan waarom spelers na hom opsien as die kaptein van die NWU Vaal se span. Sy benadering tot basketbal is onpretensieus. “Ek hou dit die hele tyd eenvoudig. As jy ’n baie goeie speler wil wees, moet jy verdediging bemeester en jy moet ook verstaan dat dit ’n spansport is en dat elkeen se rol ewe belangrik is.”

Tinotenda Chirara in aksie tydens die Varsitybeker. Foto: Ettienne van Rensburg

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Submitted on Thu, 05/07/2020 - 11:00