NWU se Fanie as een van die beste gholfafrigters vir Gauteng benoem

Om vir Fanie Roos ’n naweekgholfspeler met ’n goeie gemiddelde te noem, sou beslis ’n groot fout wees. Fanie, ’n dosent in sportbestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU), is ’n geakkrediteerde professionele gholfspeler, en hy is so pas as finalis in die gesogte Professionele Gholfspelersvereniging van Suid-Afrika (PGA-SA) se jaarlikse toekennings vir 2019 benoem.

Sy benoeming is in die kategorie van Afrigter van die Jaar in die Gauteng-Sentraal-streek.

Fanie het in 2018 die eerste akademiese verteenwoordiger van die NWU geword om die PGA-SA se afrigtingskonferensie toe te spreek, en hy sal weer eens die verhoog betree as een van die provinsie se voorste gholfafrigters.

Vir Fanie kon hierdie hoogtepunte in sy loopbaan as akademikus en as ’n professionele sportman nie op ’n beter tyd gekom het nie, aangesien hy besig is om sy meestersgraad oor gholf te voltooi. Sy fokusarea is die ontwikkeling en ondersteuning van jong spelers.

Meer oor Fanie

Om op die PGA-verhoog te staan, was ’n lewenslange droom wat waar geword het vir Fanie, wat sedert die jong ouderdom van ses jaar gholf speel. Hy onthou hoe sy pa, Flip Roos, sy gholfstokke korter gemaak het sodat dit klein genoeg was vir Fanie en sy broer, Christo, om mee te speel. Sy pa se toewyding en afrigting het dividende opgelewer sodat Fanie tans sy eie gholfakademie bestuur en Christo ’n professionele nasionale PGA-speler is.

Fanie het in 2003 sy BA-graad in menslike bewegingskunde en sielkunde aan die NWU voltooi, gevolg deur ’n nagraadse onderwysdiploma in 2004. Hy het sy honneursgraad in sportwetenskap aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Die wetenskap van die ontwikkeling van jong sporttalent

Toe hy uitgevra is oor sy siening oor ouers wat hulle kinders druk om slegs een sport te beoefen met die hoop om ’n professionele sportman of -vrou groot te maak, sê Fanie dat hy glo dat kinders aan so veel sportaktiwiteite as moontlik moet deelneem terwyl hulle grootword.

 “Wanneer kinders as individue of aan spansport deelneem, verwerf hulle belangrike vaardighede wat ’n bydrae tot hulle toekomstige sportsukses sal lewer. Ek sou ouers en jong atlete aanraai om eers op die ouderdom van 15 of 16 jaar te begin spesialiseer,” sê Fanie.

Fanie het 13 jaar gelede sy afrigtersloopbaan begin en is ’n professionele klas AAA PGA-speler. Na ’n skof as onderwyser by die Emfuleni Park Laerskool, het hy in 2014 sy akademiese loopbaan as junior lektor aan die NWU begin.

Fanie Roos

 

Submitted on Mon, 07/15/2019 - 11:56