NWU salueer as belangrike vennote van samewerking

Die afdeling Studentewerwing aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs ‘n dankiesê-geleentheid gehou vir skoolhoofde van die Vanderbijlparkstreek. 

Die doel van die geleentheid was om die skoolhoofde van strategies geïdentifiseerde top-voederskole te bedank vir hul getroue verbintenis tot die akademiese ontwikkeling van leerders in die streek.

Tydens die geleentheid het prof Dan Kgwadi, die visekanselier, en prof Linda du Plessis, adjunkvisekanselier vir beplanning en kampusbedryfwighede in Vanderbijlpark, die skoolhoofde toegespreek oor die strategiese posisionering van die NWU en onlangse verwikkelinge en prestasies gedeel. 

In sy praatjie het prof Kgwadi die skoolhoofde geloof vir die belangrike rol wat hul onderskeie skole speel in die lewering van uitsonderlike akademiese talent vir toelating tot die voorgraadse programme aan die universiteit. 

Hy het verder genoem dat die NWU gedurende die 2019 akademiese jaar meer as 12 000 eerstejaars oor die drie kampusse verwelkom het, en dat die studentewerwingspan meer as 1 100 skole in hul bemarkingsveldtog betrek het.

Prof Du Plessis het bygevoeg dat, teen die agtergrond van die doelstelling van die universiteit om die gemeenskap met kennis te dien deur innoverende leer en onderrig, asook baanbrekersnavorsing, skoolhoofde belangrike “vennote van samewerking” verteenwoordig.

Hierdie samewerking dra, volgens prof Du Plessis, by tot die verwesenliking van die NWU se doelwitte en droom om ‘n erkende unversiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ‘n sorgsaamheidsetiek.

“Onderwysers is ast’ware die engineurs van ‘n beter toekoms en daarom is dit belangrik vir ons om hande te vat ten einde ‘n gemeenskap te bou wat spreek tot kulturele sensitiwiteit, politiese intelligensie en sosiale buigsaamheid, terwyl daar terselfdertyd gefokus word op akademiese uitnemendheid en ‘n kultuur van innovasie,” het prof Du Plessis gesê

 

Lede van die NWU se studentewerwingspan is van links Hannatjie Visagie, Piet van Wyk, Naledi Lehutso en Jabu Sithole.

Submitted on Thu, 10/03/2019 - 09:42