NWU Rugby-instituut: Vanderbijlpark verwelkom hoofafrigter

Dewald Pieters is ’n man met ’n missie. Vir die pas aangestelde hoofafrigter van die Noordwes-Universiteit (NWU) Rugby-instituut: Vanderbijlpark bring 2019 nuwe geleenthede en die belofte van sukses.


Dewald (37) is in die Vanderbijlpark gebore en getoë, en hy is nie net met die plaaslike rugbytoneel vertroud nie, maar ook in die beste moontlike posisie om jong talent te identifiseer en te ontwikkel. Hy glo vas in Ellen Johnson Sirleaf se woorde: as jou drome jou nie bang maak nie, is dit nie groot genoeg nie, en Dewald is opgewonde oor die uitdagings wat met die verantwoordelikhede van die hoofafrigterspos gepaardgaan.

“Vandat ek kan onthou, droom ek al daarvan om teen die topafrigters in die Varsitybeker-kompetisie mee te ding,” sê Dewald, en voeg by dat sy spanne se prestasie uiteindelik die bewys van sy vaardigheid en vermoëns op die rugbyveld sal wees.

Dewald se afrigtingsloopbaan het in 2000 by die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark afgeskop. Hy spog met ’n IRB vlak 2-afrigtersgradering vir die 15-manweergawe van die spel, en ’n vlak 1-afrigtersgradering vir sewesrugby.’n Hoogtepunt in sy loopbaan tot dusver is om deel te wees van die NWU-span wat in 2014 die Valke se onder 21-Peregrine-liga gewen het. Hy het ook die Valke se onder 18-akademiespan, die Valke se onder 20-Curriebeker-span en die Valke se amateursewesspan geslyp.

In 2016 het hy die toekenning as Gauteng se Sportafrigter van die Jaar ontvang, en ook die titel van Sedibeng Afrigter van die Jaar. Laasgenoemde prestasie is in 2017 herhaal.

Op ’n vraag oor sy afrigtingsfilosofie, antwoord Dewald dat hy glo dat rugby ’n belangrike opvoedingsinstrument is, en ook ’n platform vanwaar hy jongmense die waardes van lojaliteit, respek, eerlikheid, deursettingsvermoë, spanwerk en opregtheid kan leer. Kortom, bou karakter. “Rugby is ’n spel wat jou nederig hou, en jy kan dus nie net op die telbord fokus nie. Jy moet ook jou spelers voorberei vir die lewe nadat die laaste fluitjie blaas.”

 

Saam met Dewald en Sean McCallaghan, die NWU se sportbestuurder, in die bestuurspan hierdie jaar is Gunner Williamson (afrigter: voorspelers), Kazlo Holtzhauzen (afrigter: skop), en Marnus Erasmus (afrigter: juniors).

 

* Die NWU Rugby-instituut: Vanderbijlpark-klub rig vanaf 18:00 tot 20:00 op Maandag, Dinsdag en Donderdag af. Die klub se gimsessies strek van 05:00 tot 11:00 op weeksdae. Die spanne speel hulle eerste vriendskaplike wedstryd op 23 Februarie en hulle eerste ligawedstryd op 30 Maart.

 

 

Dewald Pieters, of “Coach D”, soos hy bekendstaan, is aan die hoof van die afrigtingstruktuur aan die NWU se Rugby-instituut: Vanderbijlpark

 

 

 

 

 

 

Submitted on Fri, 02/01/2019 - 09:00