NWU-ontwerpers ontvang Loerie- en Pendoring-toekennings

Die talent en kreatiwiteit van die studente en gegradueerdes van die Grafiese Ontwerp-vakgroep by die Noordwes-Universiteit (NWU) het by die onlangse internasionale Loerie-toekennings en nasionale Pendoring-toekennings erkenning ontvang.

Die NWU se studente en gegradueerdes het nog altyd in hierdie kompetisies geskitter, en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Hulle eiesoortige kreatiwiteit en vaardighede het beoordelaars beïndruk en aan hulle twee silwer Pendoring-toekennings en een goue Pendoring-vernufsertifikaat, drie Pendoring-vernufsertifikate en een brons Loerie-toekenning besorg.

Jo-Ann Chan van die NWU se Grafiese Ontwerp-vakgroep sê dit is bevredigend om te sien dat die harde werk en toewyding van ons studente en alumni erkenning ontvang. “Dit was ’n plesier om te sien hoe hierdie individue van krag tot krag gaan en hulle eie kreatiewe stem tydens die proses vind.”

Ontvang lof by die Pendoring-toekenningseremonie

Die Pendoring-toekennings bevorder en erken kreatiwiteit in al Suid-Afrika se inheemse tale in die Suid-Afrikaanse reklamebedryf en is besonder gesogte toekennings. Hierdie jaar se wenners het die trotse nalatenskap van uitnemendheid van Grafiese Ontwerp, wat deur die jare talle eerste plekke en toekennings ontvang het, voortgesit. Die toekennings is op 3 November aangekondig.

Tian Zietsman het ’n silwer Pendoring-toekenning in die Publication Design-kategorie huis toe geneem, asook ’n goue Pendoring-vernufsertifikaat in die Typography Craft-kategorie. Sy projek, Kuber Klank, het op musiekfeeste gefokus. “Die konsep daaragter is een van die eerste geaugmenteerderealiteit-musiekfeeste. Die idee is om jou slimfoon te gebruik om ’n illustrasie op ’n plakkaat of in ’n tydskrif te skandeer en dan na ’n mini-musiekkonsert of uitvoering op die toestel te kyk. Dit bring in werklikheid die ervaring van ’n musiekkonsert in jou woonkamer in,” sê hy.

Alumnus Anchen Badenhorst, wat tans as ’n middelvlak- grafiese ontwerper vir ’n kommunikasie-konsultasiemaatskappy werk, sê sy voel geëerd deur die silwer Pendoring-toekenning vir Rou. Seks in Afrikaans.

“Die toekenning is bittersoet, aangesien dit my laaste inskrywing as NWU-student was noudat ek my studies voltooi het.” Anchen is nie ’n onbekende ten opsigte van toekennings nie – sy het ook verlede jaar ’n silwer toekenning vir haar projek, Zaan Kultuur, ontvang, asook vernufsertifikate vir illustrasie en tipografie in die Student Print, Design en Out of Home Crafts-kategorie.

Céline Dann het ’n Pendoring-vernufsertifikaat vir haar inskrywing, Die Soetsisters, ontvang. “Ek het nie verwag om ’n toekenning te wen nie. Ek glo dit sal vir my deure in die bedryf oopmaak. My inskrywing vier erfenis en tradisies deur te fokus op die kos wat na aan ons harte lê, soos koeksisters en koesisters. Die inskrywing het bestaan uit ʼn unieke lettertipe en ’n hoofartikel.”

“Dit was vir my belangrik dat my werk uitgestaan het, veral omdat ek volgende jaar die arbeidsmark wil betree,” sê Morné Kruger, die ontvanger van die Pendoring-vernufsertifikate in die Typography Craft- en Illustration Craft-kategorie vir sy inskrywing 18 Jaar Later. Hy het die ontwerp vir Fokkofpolisiekar se 18de verjaardag geskep. “Ek het collages en foto’s van hulle verlede as ’n musiekgroep gebruik en ’n unieke handgetekende ontwerp geskep.”

Marina ontvang erkenning by die Loerie-toekennings

Die Loerie-toekennings, wat in Oktober aangekondig is, gee erkenning aan uitnemendheid in die handelsmerk-kommunikasiebedryf in Afrika en die Midde-Ooste. Alumnus Marina Marais se inskrywing het aan haar ’n brons Loerie in die Film-kategorie besorg.

Marina werk tans as ’n uitlegkunstenaar en videoredigeerder vir Platinum Publishers in Rustenburg.

“Dit was regtig heeltemal onverwags. Ek is baie bly daaroor en ek glo dit sal baie vir my toekoms in die bedryf beteken.”

1

Celine Dann, Tian Zietsman en Morné Kruger is trots op hulle prestasie met die Pendoring-toekennings. Hulle is finalejaarstudente in Grafiese Ontwerp.

 

....
....

Anchen Badenhorst se projek, Rou. Seks in Afrikaans, het aan haar ’n silwer Pendoring-toekenning besorg.

 

4

Tiaan Zietsman het ’n silwer Pendoring-toekenning en ’n goue Pendoring-vernufsertifikaat met Kuber Klank ingepalm.

 

5

Celine Dann het Die Soetsisters-lettertipe en hoofartikel geskep.

 

6

Morné Kruger se 18 Jaar Later is ’n viering van die musiekgroep Fokofpolisiekar se nalatenskap.

 

....
....

Marina Marais het die NWU se naam by die Loerie-toekennings hoog gehou met haar projek, History Repeats Itself. Hier is ’n skermgreep van een van die tonele. Klik hier om na haar inskrywing te kyk.

 

Submitted on Fri, 11/11/2022 - 14:40