NWU-navorsers stel groeifaktore vir vroulike entrepreneurs vas

Dit is lankal nie meer waar dat entrepreneurskap slegs ’n manlike domein is nie. In die afgelope paar jaar het die getal vroulike entrepreneurs toegeneem, wat almal laat besef dat vroue ’n belangrike bron van ekonomiese groei is.

Ten spyte van die populêre bekoring dat entrepreneurs die vryheid het om hulle eie werksure te bepaal, projekte kan aanpak wat hulle interesseer, en die belofte dat die immer-ontwykende werk-lewe-balans bereik kan word, kom dit nie sonder uitdagings nie – veral nie vir vroue nie.

In ’n onlangse studie deur dr Natanya Meyer en dr Rita Klonaridis van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Ondernemingsbestuur, het hulle gekyk na groeifaktore in besighede vanuit ’n vroulike entrepreneur se perspektief en in die konteks van ’n ontwikkelende land.

Volgens hierdie kundiges was die belang van die studie tweeledig. Eerstens het dit ’n vroulike perspektief verskaf op die belangrikste groeifaktore in besigheid, en tweedens is daar uit die oogpunt van ’n ontwikkelende land gekyk, aangesien dit kan verskil wanneer dit met ontwikkelde lande vergelyk word. 

Die navorsers het gevind dat ondernemings wat deur vroue besit word kleiner is, stadiger groei en minder winsgewend as dié van hulle manlike eweknieë is. En, hoewel fempreneurs baie entoesiasties oor hulle eie ondernemings is, word hulle gekonfronteer deur talle hindernisse wat in die pad van hulle ontwikkeling staan.

Belangrike groeifaktore vir fempreneurs

Die uitkoms van hulle studie het getoon dat interne faktore baie belangrik is vir volgehoue groei in besighede en sukses wanneer dit oor vroue in besigheid handel. Dit sluit aspekte in soos ondersteuning van familie en vriende, om hardwerkend te wees, goeie diens aan en verhoudings met kliënte, en vorige besigheidservaring.

Die tweede belangrikste groeifaktor wat hulle geïdentifiseer het, is vaardighede en markgeleenthede. Dit sluit aspekte in soos sosiale en bestuursvaardighede, mensehulpbronnebestuur, ’n goeie reputasie en produk of diens, mededingende pryse en dat hulle hul produk of diens suksesvol kan bemark.

Entrepreneursgeleenthede is as die derde belangrikste faktor vir groei aangeteken. Aspekte soos toegang tot finansiering, die ondersteuning van die regering, entrepreneursopleiding en ‑opvoeding was deel van hierdie faktor.

Laastens is politieke betrokkenheid en status in die gemeenskap gelys as die onbelangrikste groeifaktor vir vroulike entrepreneurs in ontwikkelende lande.

Gaan die toekoms tegemoet

Die twee kundiges se studie het bykomende bewyse verskaf oor hoe vroulike entrepreneurs suksesfaktore waarneem.

“Vroulike entrepreneurs word beslis meer deur interne motivering gedryf,” sê dr Meyer en dr Klonaridis. “Dit bewys weer eens dat vroulike entrepreneurs ’n hoë mate van innerlike gedrewenheid ten opsigte van besigheid het. In ontwikkelende lande soos Suid-Afrika word entrepreneursaktiwiteite aangemoedig om ekonomiese groei en die skepping van welvaart te bevorder. Dit is dus noodsaaklik om entrepreneursvaardighede te ontwikkel.”

Deur hulle navorsing hoop hierdie twee kundiges om lig te werp op die toekomstige beleidsrigting wat fempreneurs betref.

“Suid-Afrika ervaar tans kwessies op sosio-ekonomiese, politieke en makro-ekonomiese gebied, wat ’n relatief groot en ongunstige uitwerking op die ekonomiese groei van die land het. As oplossing vir die probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar, word daar aanbeveel dat die regering die uitbreiding van sakeaktiwiteite bevorder en ’n bemagtigende omgewing skep wat ondernemings in staat stel om te groei en te floreer.”

   

Dr Natanya Meyer.                             Dr Rita Klonaridis.

#NWUVroue

 

Submitted on Tue, 08/27/2019 - 12:38