NWU-kundiges is gereed om Afrika te dien

Die Noordwes-Universiteit (NWU) brei sy voetspoor wyd oor die vasteland van Afrika uit in sy strewe om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek bekend is.

Afrika-unie se WePROTECT- wêreldwye beraad

Prof Johnny Strijdom, ’n buitengewone professor in die Optentia-navorsingsfokusarea, het onlangs die Afrika-unie se WePROTECT- wêreldwye beraad gekoördineer om die aanlyn seksuele uitbuiting van kinders aan te pak. Die beraad het in Addis Ababa, Ethiopië plaasgevind en 94 lande – insluitend 47 uit Afrika – het aan die gebeurtenis deelgeneem.

Afrika-unie-beraad van staats- en regeringshoofde

Die 33ste Afrika-unie-beraad van staats- en regeringshoofde het onlangs die Maatskaplike Agenda 2063 aanvaar. Prof Marius Olivier van die NWU se Fakulteit Regte en dr Tavengwa Nhongo van die Afrika-platform vir maatskaplike beskerming het aktief aan die opstel van hierdie agenda deelgeneem.

Agenda 2063 is Afrika se plan om die vasteland in die wêreldwye reus van die toekoms te omskep. Dit is ’n strategiese raamwerk wat daarop gemik is om sy doelwit van inklusiewe en volhoubare ontwikkeling te verwesenlik en dit is ’n konkrete manifestering van die Pan-Afrikastrewe na eenheid, selfbeskikking, vryheid, vooruitgang en kollektiewe voorspoed wat ingevolge Pan-Afrikanisme en die Afrika-renaissance nagestreef word.  

Die oorsprong van Agenda 2063 was Afrika-leiers se besef dat daar ’n behoefte is om Afrika se agenda uit die stryd teen apartheid en die bereiking van politieke onafhanklikheid vir die vasteland te herfokus en herprioritiseer. Die prioriteit moet eerder inklusiewe maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling, kontinentale en streeksintegrasie, demokratiese bestuur en vrede en sekuriteit wees, en ander kwessies wat daarop gemik is om Afrika te herposisioneer om ’n dominante speler in die wêreldwye arena te word.

 

 

Submitted on Thu, 04/02/2020 - 12:11