NWU-kundiges beklemtoon die belangrikheid van opleiding van fempreneurs

Met Vrouemaand in volle swang, plaas twee kundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU) die kollig op die belangrikheid van entrepreneursopleiding vir vroulike entrepreneurs.

Die kundiges, dr Natanya Meyer en dr Luzaan Hamilton – albei lede van die Skool vir Ondernemingsbestuur – is van mening dat om vroue in staat te stel om ’n proaktiewe standpunt in te neem in hulle eie ontwikkeling, dit nodig is om hulle vermoë te verbeter om aktief aan formele besigheidsmarkte deel te neem. 

In ’n onlangse navorsingstudie wat deur hierdie twee kundiges uitgevoer is, het hulle gekyk na die verskille – in verskeie entrepreneursfaktore – tussen plaaslike fempreneurs wat ’n vorm van entrepreneursopleiding gehad het en diegene daarsonder.

Entrepreneursopleiding onder die vergrootglas

“Entrepreneurskap word as ’n noodsaaklike komponent van ekonomiese ontwikkeling beskou,” sê dr Meyer en dr Hamilton. “Dit geld veral vir ontwikkelende lande soos Suid-Afrika, waar die ekonomie hoë vlakke van werkloosheid en armoede in die gesig staar. Verskeie lande beklemtoon die belangrikheid van vroulike entrepreneurskapsontwikkeling en bewyse toon dat entrepreneurs wat opleiding ontvang het, ’n sterker verbintenis toon om in die besigheid te bly en dit te laat groei.”

Vroulike entrepreneurs word veral erken as ’n nuwe enjin vir ekonomiese groei en vooruitgang. Die kundiges het ook verder bevind dat daar bepaalde verskille is tussen vroue wat entrepreneursopleiding gehad het en diegene wat nie het nie, veral met betrekking tot eksterne motivering en besigheidsgroeifaktore.

Die uitkoms van die studie impliseer dat entrepreneursopleiding wel fempreneurs se persepsie van hierdie faktore kan beïnvloed.

Die pad vorentoe

Volgens die konsortium vir entrepreneurskapsopleiding kan entrepreneurskapsopleiding dalk help met die voorbereiding van individue, veral vroue en jongmens. Interessant genoeg is daar bevind dat entrepreneursopleiding ’n groter effek op vroue as op mans het.

Dr Meyer en dr Hamilton stem saam dat dit vir die regering noodsaaklik is om spesiale opleidingsprogramme vir vroulike entrepreneurs bekend te stel en te bevorder en befondsingsgeleenthede te fasiliteer ten einde hierdie besighede se volgehoue groei te verseker.

      

        
Dr Natanya Meyer.     

               

 Dr Luzaan Hamilton.

#NWUVroue

Submitted on Fri, 08/23/2019 - 09:25