NWU-kundige: VN se Sekuriteitsraad deur interne magstryde lamgelê

Is dit moontlik dat die Verenigde Nasies se Sekuriteitsraad (UNSC) ’n sinnelose forum geraak het vir die bespreking van ernstige menseregtevergrype wat op verskeie plekke in die wêreld plaasvind?

Dit is die vraag wat dr Illyayambwa Mwanawina, ’n kundige in streeksintegrasie, internasionale reg, goeie regering en menseregte aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, gevra het ná die onlangse UNSC-vergadering waartydens die raad nie daarin geslaag het om ’n resolusie te aanvaar wat die beweerde gebruik van chemiese wapens in Sirië veroordeel nie.  

Volgens dr Mwanawina is daar ’n “toenemende pandemie” van ’n internasionale magspel onder die lidlande binne die UNSC, en dit lê die raad se vermoë lam om sy mandaat doeltreffend uit te voer. “Die UNSC se versuim om die onderskeie regerings se samewerking te verkry met ’n ondersoek na die onlangse gasaanval in ’n area van Noord-Sirië wat deur rebelle beset is (en wat minstens 87 mense gedood het, van wie talle kinders was), is ’n simptoom van die raad se onvermoë om die waardes van die Verenigde Nasies (VN) te bewaar,” verduidelik dr Mwanawina.

’n Videosnit van die aanval het skokgolwe regoor die wêreld gestuur en kommer laat ontstaan oor die aard van gewapende konflik wat oor die wêreld heen plaasvind. “Ek twyfel ook nie aan die feit dat die wêreld op sosiale media en ander vorms van nuusberigte gesien het hoe hierdie krisis vir amper sewe jaar lank aan die ontplooi was nie,” sê dr Mwanawina. Hy sê voorts dat wat ook toenemende ongemak binne die geledere van die burgerlike samelewing moet veroorsaak, is die oënskynlike onvermoë van die UNSC om sy doelwit van internasionale vrede te handhaaf. Volgens dr Mwanawina is die UNSC nie in staat om betyds progressiewe resolusies te aanvaar nie omdat sy permanente lede nie kan ooreenstem nie.

 

“Vir elke dag wat verbygaan terwyl die UNSC nie oor Sirië tot ’n besluit kan kom nie, styg die dodetal, asook die getal interne ontworteldes. Dit is totaal onlogies dat ’n lid van die UNSC ’n resolusie sal teenstaan wat die waardes van vrede en stabiliteit onderskryf,” sê dr Mwanawina. Hy sê dat dit kommerwekkend is dat dit lyk asof diplomate meer besorgd is oor die verbrokkeling van die diplomatieke verhouding tussen Rusland en die Verenigde State (as gevolg daarvan dat Rusland die resolusie teenstaan wat deur die Verenigde State ondersteun word) as wat hulle vrede en stabiliteit wil najaag. 

Die mag om te veto – ’n baie beredeneerde kwessie

Die UNSC het die taak om namens die Verenigde Nasies vinnig en doeltreffend op te tree, om internasionale vrede en sekuriteit te bewaar, asook om die beginsels te handhaaf wat in die Handves van die Verenigde Nasies beskryf word. Artikel 27(3) van die Verenigde Nasies se Handves vereis dat besluite van die Sekuriteitsraad deur die bevestigende stem van nege lede, insluitende eenstemmigheid onder die permanente lede, bekragtig moet word. Hierdie bepaling was die middelpunt van baie debatte met betrekking tot die wanbalans van mag in wêreldsake, aangesien dit impliseer dat ’n negatiewe stem, of veto, van een van die raad se vyf permanente lede, China, Frankryk, Rusland, die Verenigde Koninkryk, en die Verenigde State, beteken dat ’n resolusie nie aanvaar kan word nie.

Volgens dr Mwanawina is die mag om te veto in die meeste gevalle deur die permanente lede gebruik om hulle eie “stiksienige politieke belange” ten koste van werklike menselewens te bevorder. In internasionale regskringe word aangevoer dat die ontwerp van die VN-handves om net vyf permanente lede te hê in 1945 nodig was om die geopolitieke werklikhede van die wêreld ná die katastrofiese oorloë te weerspieël. “Ironies genoeg is dit aangeteken dat al vyf die permanente lede al oorlog gemaak het of ’n land ingeneem het sonder die Sekuriteitsraad se goedkeuring, en daarmee die onbetroubare aard bewys het waarmee die permanente lede die rol van die UNSC respekteer,” sê dr Mwanawina.

“Na my mening is die integriteit waarmee die UNSC optree, besig om te verswak. Die redenering en besluite van die lede wat op die UNSC dien, is nie in ooreenstemming met die waardes en beginsels wat hulle behoort te verdedig nie. Ideaal gesproke moet elke besluit deur ’n lidland ’n rede of beginsel bevat wat op ’n rasionele wyse na die doelwitte van die VN herlei kan word. Op hierdie tydstip is daar geen meganismes om die aanspreeklikheid van die UNSC-lede te verseker nie. Tensy die VN dit oorweeg om sy instellings en bedrywighede te hervorm, sal hierdie agteruitgang voortgaan om die idee te versterk oor hoe die VN en ander internasionale organisasies bloot die belange van dominante lidlande dien.”

 Dr Illyayambwa Mwanawina

Submitted on Wed, 07/19/2017 - 11:45