NWU-gemeenskap ondersteun KANSA Relay for Life

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark en die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) het ’n belangrike mylpaal gevier deur die naweek van 15-16 September 2018 hande te vat en saam die sesde jaarlikse Vanderbijlparkstreek se KANSA Relay for Life aan te bied.

Daar was weer ’n keer deelnemers en ondersteuners van regoor die suide van Gauteng wat hulle hardloopskoene aangetrek en aan die jaarlikse aflos kom deelneem het. Die tema van die 2018-weergawe van die gebeurtenis was: “Disney”, en die uitdaging was om te sien wie die tema die beste kan interpreteer. Die geleentheid is amptelik deur Jacob Simango, direkteur vir studentelewe op die kampus, geopen. Jacob het self kanker oorleef en daarom het die geleentheid vir hom en sy gesin ook spesiale betekenis.

Vier! Onthou! Veg terug!

Die verklaring: “Vier! Onthou! Veg terug!” dien as riglyn vir die jaarlikse gebeurtenis, waar die gemeenskap saamkom om diegene wat kanker oorleef het, se lewens te vier; diegene te onthou wat die stryd teen kanker gewonne moes gee; en om aan te hou veg teen die siekte totdat ’n geneesmiddel gevind word.

KANSA se Relay for Life is deel van ’n wêreldwye beweging wat kankeroorlewendes en die gemeenskappe wat vir hulle omgee, saamsnoer. Dit gee aan almal in ’n gemeenskap – oud en jonk – die geleentheid om aan die stryd teen kanker deel te neem, en dié te eer wat deur kanker geraak word. Kortom: dit verteenwoordig ’n unieke gebeurtenis wat aan gemeenskappe hoop bied, dat almal wat die stryd teen kanker verloor het, nooit vergeet sal word nie, dat dié wat teen kanker veg, ondersteun sal word, en dat kanker eendag uitgewis sal word.

 

Submitted on Fri, 09/21/2018 - 12:13