Noodsaaklike hofopleiding vir jong maatskaplike werkers

Die veiligheid en welstand van kwesbare kinders en jongmense is altyd van die uiterste belang, tog word al hoe meer gevalle ingevolge die Kinderwet en verwante wetgewing onder die aandag van Gesins- en Kinderdienste gebring.

Hierdie toedrag van sake het tot gevolg dat maatskaplike werkers se optrede, aanbevelings en besluite toenemend in ’n hof onder die soeklig kom, met die gevolg dat daar twyfel gesaai word oor die maatskaplike werker asook die gesagsinstelling wat hulle verteenwoordig.

In ’n gesamentlike poging om jong maatskaplike werkers vir hierdie uitdagende werklikheid van hofverskynings voor te berei, het dr Elmien Truter, ’n professionele maatskaplike werker en dosent by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Psigososiale Gesondheid, onlangs ’n groep tweedejaar-maatskaplikewerkstudente as deel van ’n praktiese opleidingsinisiatief na die Vanderbijlparkse Kinderhof vergesel. 

Die opleiding, wat die vorm van ’n simulasie aangeneem het, het aan die studente ’n voorsmakie gegee van die harde werklikheid wat maatskaplike werkers ervaar wanneer hulle in die hof moet getuig.

Dr Truter, wat vir die afgelope drie jaar reeds hierdie praktiese opleidingsinisiatief fasiliteer, en wat talle keer in haar loopbaan vir mishandelde en verwaarloosde kinders moes intree, verduidelik dat dit belangrik is vir studente om hierdie deel van die werk te ervaar voordat hulle dit in die praktyk moet doen. 

“Dit is noodsaaklik dat ons maatskaplike werkers voorberei om aan die standaarde van bekwaamheid te voldoen en hulle met kernvaardighede toerus om hulle belangrike werk doeltreffend, met selfvertroue, en veral volgens die beste standaarde uit te voer,” sê dr Truter. Sy voeg by dat die simulasie in sy geheel daarop gefokus is om beter uitkomste vir kwesbare kinders te verkry.

Professionele samewerking om leerervaring te vergroot

Om te verseker dat die simulasie so realisties as moontlik is en ’n impak maak, word die dienste van professionele regspraktisyns ingeroep. Om hulle vir die hof voor te berei, het mnr Jorge Martins, ’n prokureur van Marto Lafitte & Vennote Ing., met die studente oor sake soos persoonlike voorkoms en kleredrag gepraat.

Op die dag van die simulasie is studente deur mnr Johan van den Berg, ’n kundige in gesinsreg en prokureur by Willem Pretorius Prokureurs, voorberei oor wat om tydens kruisondervraging te verwag.  

Hof is in sitting

Tydens die sitting kon die studente elkeen ’n gevallestudie teenoor ’n prokureur verdedig, en mnr Van den Berg het die rol van die verdediging gespeel. Sy rol was om sy kliënt (die sorggewer, ouer of voog), in ’n regsgeding met maatskaplike dienste te verdedig in ’n geval waar dit nodig was om ’n kind as gevolg van mishandeling of erge verwaarlosing uit sy kliënt se sorg te verwyder.

“As maatskaplike werkers nie die regte prosedure volg en hulle rolle korrek speel nie, kan dit daartoe lei dat kinders teruggeplaas word in die sorg van die mense wat hulle in die eerste plek in gevaar gestel het,” sê dr Truter.

Sy verduidelik dat om hulle kliënte so goed as moontlik te verdedig, die verdediging sal probeer om die getuienis van die maatskaplike werker te diskrediteer en tegniese teenstrydighede te vind in die prosedure wat gevolg is.

“Studente moet hierdie stresvolle situasie eerstehands ervaar en ek glo dat hierdie simulasie hulle vir talle hofsake voorberei waar hulle ’n baie belangrike rol sal speel en waar hulle dikwels die enigste stem sal wees wat in die beste belang van die kind gehoor sal word,” sê dr Truter.

Mnr Van den Berg stem saam, en voeg by dat ’n prokureur selde die hofverrigtinge as ’n persoonlike saak ervaar. “’n Prokureur se belangrikste doel is om die kliënt so goed as moontlik te verteenwoordig. Vir die maatskaplike werker wat die omstandighede van die kind gesien het, kan dit egter baie persoonlik raak,” sê hy.

* Die studente was baie goed vir hulle saak voorberei, maar was steeds senuweeagtig terwyl hulle hul beurt moes afwag om te praat. Die groep het hulle waardering uitgespreek en saamgestem dat hierdie unieke ervaring in ’n veilige omgewing uiters waardevol is vir die harde werklikheid wat hulle in die praktyk kan verwag.

Dr Elmien Truter verduidelik aan een van die studente wat van haar verwag kan word terwyl sy haar getuienis lewer.

Mr Johan van den Berg is cross examining one of the students during the simulation.

 

 

Submitted on Tue, 09/03/2019 - 12:50