Navorsing gee insig in Generasie Y se finansiële en bankgedrag

Wat geldsake betref het millenniërs – ook Generasie Y’s* genoem – gemengde gevoelens. Aan die een kant het hulle ’n positiewe uitkyk op persoonlike finansiële beplanning. Aan die ander kant is hulle meer geneig om na willekeur te spandeer, wat lei tot oorbesteding en probleme om doeltreffend te begroot.

Om tot hierdie dilemma by te dra, verkies millenniërs onmiddellike bevrediging eerder as langtermyn- finansiële doelwitte, soos om vir hulle aftrede te spaar of ’n noodfonds op te bou. Hulle kan ook minder geneig wees om advies of leiding by finansiële kundiges te vra.

Studies het bevind dat dit, gepaardgaande met ’n gebrek aan finansiële geletterdheid, grootliks hulle vermoë beïnvloed om hulle persoonlike finansies suksesvol te bestuur. So sê prof Marko van Deventer, ’n onlangse ontvanger van die NWU se toekenning vir die produktiefste opkomende navorser. Sy deurlopende navorsing fokus in die besonder op finansiële gedrag, en hy sê dit is die moeite werd om na die finansiële en bankgedrag van millenniërs te kyk.

“In die lig van Generasie Y se potensiaal om hoër en besteebare inkomste te verdien – veral diegene wat aan ’n universiteit gegradueer het – is dit belangrik om hulle bankgedrag te verstaan. Universiteite en finansiële instellings soos handelsbanke kan hierdie insigte gebruik om gapings en gebreke in hierdie groep se finansiële sake meer doeltreffend te identifiseer.”

Die mees ingeligte verbruikers in die geskiedenis

Prof Van Deventer, van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe, het ook gekyk na hoe digitale tegnologieë millenniërs se verbruiksverwante gedrag beïnvloed. “Generasie Y het besliste tegnologiese vaardighede en hulle kan vinnig by innoverende tegnologieë aanpas.”

Hy sê Generasie Y-verbruikers het toegang tot ’n wêreldwye databasis van verbruiksverwante inligting, insluitende webwerwe wat produkte vergelyk, en aanlyn resensies van en demonstrasievideo’s oor produkte, wat hulle die mees ingeligte verbruikers in die geskiedenis maak.

“Hulle kan maklik bankprodukte en -dienste vergelyk en uiteindelik ’n handelsbank kies wat hulle bankvoorkeure en -behoeftes die beste pas.”

Hy verduidelik dat hierdie generasie ook ’n hoër aptyt vir bankdienste het, wat hulle ’n belangrike huidige en toekomstige banksegment maak.

“Hierdie studies oor bankgedrag rapporteer belangrike bevindings vir handelsbanke wat graag spesifiek Generasie Y-verbruikers as teikenmark wil hê ten opsigte van die identifikasie van ’n bank, bankhandelsmerkpersoonlikheid, lojaliteit, die beeld van ’n bank, kliënttevredenheid en die gehalte van die diens. Handelsbanke kan die bevindings gebruik om toepaslike bemarkingstrategieë te ontwerp om hierdie mark doeltreffend te bereik, asook om hulle lojaliteit en vertroue te behou en te versterk.”

Sedert hy sy navorsing begin het, het prof Van Deventer verskeie navorsingsartikels oor mobiele bankgedrag gepubliseer. “Ek glo dat die insigte wat uit hierdie studies verkry is, handelsbanke help in hulle pogings om die bekommernisse van Generasie Y-verbruikers oor mobiele bankgedrag te besweer. Ek wil hulle ook help om groter vertroue in hulle mobiele kanale te bou en ’n mededingingsvoorsprong te verkry.”

Sielkundige faktore beïnvloed finansiële besluitneming

Prof Van Deventer se navorsing het ’n groot impak op die finansiële bedryf – in so ’n mate dat dit insig in die sielkundige faktore verskaf wat finansiële besluitneming beïnvloed en die doeltreffendheid van bemarkingstrategieë kan bevorder.

“My navorsing, wat deur my insigte in gedrag beïnvloed word, stel instellings in staat om hulle bemarkingstrategieë pasklaar te maak om op ’n sielkundige vlak by kliënte aanklank te vind. Dit sluit in dat kliënte se spesifieke behoeftes en besluitnemingsprosesse verstaan word.”

Hy sê deur kliëntegedrag en -voorkeure te verstaan, kan banke hulle bemarkingsboodskappe, -aanbiedings en -dienste aanpas en sodoende kliënttevredenheid en lojaliteit verhoog en tot ’n meer kliëntgefokusde en aanpasbare finansiële ekostelsel kan bydra.

Prof Van Deventer se nuwe navorsingsprojekte gaan onderskeidelik Generasie Y-verbruikers se aanlyn beleggings- en dobbelgedrag ondersoek.

Daarbenewens kyk hy na verbruikersgedrag in interaksies met toepassings van kunsmatige intelligensie (KI) soos banke se kletsbotte.

“Ek glo dat hierdie navorsing belangrik is, veral met al die nuwe ontwikkelings in KI om die kliëntervaring te verbeter en die doeltreffendheid van hierdie digitale instrumente te optimaliseer,” sluit hy af.

* Individue wat tussen 1986 en 2005 gebore is

Prof Marko van Deventer is die ontvanger van die NWU se toekenning vir die produktiefste opkomende navorser.

Submitted on Tue, 02/27/2024 - 15:35